Die aanvullende agenda art.16.23 (bl.483) se rapport se aanbeveling is dat die GKSA aansoek moet doen vir ‘volle lidmaatskap’. Lees asb hul rapport (2 en half bladsye lank). Hier is my opmerkings daaroor:
a. 1.5.3.2 word heeltemal weerspreek deur 1.5.3.6 en 1.6.2.2, hoe kan aan die eenkant beweer word die SARK het nie meer ‘politieke kleure’ nie, maar intussen het hul ‘direkte toegang’ en ‘gemakliker toegang’ tot Zuma/die regering ?
b. 1.5.3.3 moet getoets word aan hul dade en optredes, asook die SARK se bande met die WRK. Sien die baie belangrike werkstuk van br. Francois van Deventer hier onder. Die feite is, in die praktyk is die SARK (soos die res van die regering) intergeloof ge-oriënteerd, en hoe meer jy ‘saamwerk’ met ander gelowe (in plaas van om hul te evangeliseer), hoe meer neem jy hul standpunte in, vra maar vir Salomo (1 Kon.11:1-13. veral vers 4), en Paulus waarsku ook in 1 Kor.15:33, “Moenie dwaal nie, slegte gesprekke bederf goeie sedes”. Verder sou ek wou uitvind by die deputate: waar in die Skrif sien ons profete, apostels, Israel/die vroeë kerk met valse godsdienste saamwerk teen die ‘sosiale ongeregtigheid’ van die staat van hul dag ? Het Elia saam met die Baal profete gewerk teen Agab se sosiale onreg teen Nabot ? Het Paulus saamgewerk en getuig met die heidense filosowe en valse gelowe teen die Romeinse keisers ?
c. 1.5.3.5 wys die SARK se ware kleure uit, dit is niks anders as die ANC in gebed nie. Dit is bevrydingsteologie, aardse teologie wat die tweede tafel van die wet verabsoluteer teenoor die eerste tafel van die wet. ‘n Valse skeiding tussen die twee tafels, wat Christus eksplisiet verwerp in Matt.22:37-40. Dit is ‘n valse verdraaide evangelie wat die SARK aanhang, en nie die ware Evangelie wat die mens na liggaam en siel, in lewe en in sterwe red nie. Die ware kerk van Christus mag nie aan hierdie valse ‘social gospel’ verbind word deur enige ‘samewerking’ nie.
d. 1.6.2.3 is ‘n skokkende skandelike stelling. Waar op dees aarde het die kerk van Christus die SARK of enige ander instelling nodig om ‘sy roeping’ te vervul ? Ons mandaat/plig/roeping kom van een Verlosser, een Middelaar, een Koning vandaan, en dit is ons Here Jesus Christus, ons het nie die staat of die valse kerk nodig om ons roeping ‘uit te leef’ nie:
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. – Matt.28
30 As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? 31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad. – Matt.6
15 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. – Hand.9
Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; – 2 Tim.4
Die kerk van Christus moet die HERE se agenda dien, sy koninkryk soek en sy Wet soek, dan sal die ander dinge wat ons nodig het vir ons genadiglik geskenk word wat nodig is vir ons aardse bestaan. Ons word nie geroep om die SARK of intergeloofsgroepe se agendas te dien of daarmee saam te werk nie.
e. 1.6.2.5 wys daarop dat die deputate meen dat ons deur die SARK ‘n ‘suiwer Gereformeerde standpunt oor sake tot ‘n baie groter gehoor’ kan rig. Beteken dit dat die SARK en die ander gelowe NGB art.36 gaan aanvaar ? Hoe word bepaal wat die profetiese getuienis gaan wees, wie bepaal finaal die verklarings wat namens die SARK uitgereik gaan word, seker deur die meerderheid, wat definitief nie ‘suiwer gereformeerd’ gaan wees nie? Inteendeel, as die GKSA deputate enigsins daar wil getuienis aflê, gaan dit so afgewater en ongereformeerd wees, dat Christus nie ge-eer gaan word of die suiwere Evangelie gehoor gaan word nie, nl. wat al die intergeloofsgroepe, die SARK, die regering en politiek van die dag moet hoor:
10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! – Ps.2
24 Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! – Matt.6
30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. – Hand.17
Aanbeveling: op grond van die Skrif en belydenis dop die deputate se aanbevelings van 1.7
Sien die artikel, ook met verwysing na die WCRC:
“Kan u nie sien nie, broeders, dat u ontrou is aan u amp as opsieners wat die wolwe uit die kudde moet weer nie? Kan u nie sien hoe onbarmhartig u optrede teenoor dr. Kuitert en sy volgelinge sowel as die kerk is as u nie die leertug toepas nie? U handhaaf nie die leer nie, maar het prakties leervryheid geproklameer. … Hoe smartelik dit ook al is om so met huisgenote van die geloof te spreek, roepingstrou eis dat u vermaan word om die waarheid weer in u optrede bo ‘n valse eenheid te stel. U moet weer die gesag van die Heilige Skrif en die belydenisskrifte onvoorwaardelik bely en onverswak sonder aansien van die persoon handhaaf deur die leertug op die wat in hul dwalinge volhard, toe te pas.”
Ja, “Veeleer word alles gedoen om diegene wat afwyk van die belydenis, ‘n wettige plek in die kerk te gee en te laat behou. …”, en so word al meer teenstrydige sieninge van die Skrif, ampte, erediens, Psalms, ens. geakkomodeer en toegelaat, en die plaaslike kerke en kerkverband skeur uitmekaar, lank nog voor daar ‘n ‘amptelike’ skeuringsdatum is.
Die vorige geslag het die sake wat nou op die WCRC en die CRCNA se tafel is as ‘n ‘ander evangelie’ beskryf, as in stryd met die Skrif, belydenis en kerkregering.
Die huidige geslag beveel aan dat ongeag hierdie sake, die CRCNA vashou aan die Skrif, belydenis en kerkregering.”
Bestudeer gerus br. van Deventer se deeglik begronde studiestuk:
Hier is die inhoudsopgawe, voorwoord en inleiding:
Voorwoord……………………………………………………. ii
Inleiding………………………………………………………. 1
Die SARK en WRK verwantskap……………………….. 4
SARK se Antichristelike eienskappe…………………. 6
Sola Scriptura verwerp……………………………………………………………………………………………………. 6
Homoseksualiteit……………………………………………………………………………………………………………… 7
Intergeloof………………………………………………………………………………………………………………………. 8
Aborsie…………………………………………………………………………………………………………………………. 11
WRK geskiedenis…………………………………………. 13
Die Wederdoper en SARK verwantskap?………….. 16
SARK en Kommunistiese Diktators…………………. 19
Bedenklike SARK leierskap…………………………… 21
Eddie Makue…………………………………………………………………………………………………………….. 21
Dr Molefe Samuel Tsele……………………………………………………………………………………………. 21
Rev. Charity Majiza………………………………………………………………………………………………….. 21
Dr Frank Chikane……………………………………………………………………………………………………… 21
Dr Desmond Tutu……………………………………………………………………………………………………… 22
John Rees…………………………………………………………………………………………………………………. 23
Bishop Bill Burnett…………………………………………………………………………………………………… 23
Slot…………………………………………………………… 24
Aanhangsels……………………………………………….. 26
Aanhangsel A: Die SARK kry geld van die WRK………………………………………………………….. 27
Aanhangsel B: Die ICRC verbied lidmaatskap aan die WRK…………………………………………. 28
Aanhangsel C: Die SARK is lid van die WRK………………………………………………………………… 29
Aanhangsel D: Die Katolieke is lid van die SARK…………………………………………………………… 30
Aanhangsel E: Die SARK en die WRK………………………………………………………………………….. 31
Afkortings…………………………………………………… 32
Voorwoord
Ek het hierdie dokument saamgestel nadat dit aan my bekend geword het dat die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika besluit het om aansoek te doen by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) vir lidmaatskap.
Ek het reeds in 1996 navorsing oor die SARK en die Wêreld-Raad van Kerke gedoen nadat ek deur Dr Ed Cain van Signposts gevra was om ‘n lesing oor die SARK by ‘n NG Gemeente in Petrus Steyn te lewer.
Aangesien daar reeds 10 jaar verloop het sedert ek die navorsing oor die SARK gepubliseer het in Kerkeenheid en die WRK/SARK, het ek dit dan nodig geag om hierdie inligting by te werk met meer onlangse inligting.
Hierdie dokument is dan ‘n resultaat van die navorsing wat ek die afgelope 6 maande gedoen het.
Mag dit tot nut wees vir ons HERE Jesus Christus se kerk in Suid-Afrika.
Francois van Deventer
Pretoria
Mei 2007
Inleiding
Die GKSA sinode het in 2006 besluit om aansoek te doen[1] vir lidmaatskap by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Hierdie besluit lui soos volg:
“bladsy 172
3.2 Lidmaatskap SARK
Die Deputate is van oordeel dat die GKSA aansoek om lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) moet doen en beveel so by die Sinode aan. Terselfdertyd beveel die Deputate aan dat Sinode Middellande gevra word om saam met Sinode Potchefstroom aan te sluit by die SARK.
…
bladsy 175
Besluit: 3.2 hierbo word goedgekeur met die volgende byvoeging:
(a) ‘Die Sinode stel dit duidelik dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hul onafhanklikhed behou en nie per assosiasie verantwoordelikheid aanvaar vir elke standpunt en handelinge van die SARK nie.
(b) Die Deputate kry opdrag om ernstige en wesenlike punte van verskil aan ons lidmate te kommunikeer.
(c) Die Deputate kry opdrag om die volgende Sinode te adviseer oor die voortsetting van ons lidmaatskap’.”
Hierdie daad noodsaak lidmate en kerke binne die GKSA kerkverband om hulself af te vra of hierdie ’n besluit was wat versoen kan word met ons Gereformeerde belydenis van Sola Scriptura[2], Solus Christus[3], Sola Fide[4], Sola Gratia[5] en Soli Deo Gloria[6].
In die besluit is uitdruklik gesê dat hulle nie beoog om elke besluit of standpunt van die SARK te ondersteun nie. Dit is egter insiggewend om te kyk wat dr Beyers Naude, een van die vorige algemene- sekretarisse van die SARK, te sê het oor die verhouding van die SARK tot lidkerke:
“What did worry me was that so many of the resolutions adopted by the National Conference or the (SACC) Executive were passed on to the Churches. Then I watched carefully how tardy or over cautious or even how fearful the member Churches were to pick up the issues and implement them.”[7]
Met ander woorde, een van die mondstukke van die SARK is van mening dat besluite en standpunte van die SARK wel deur lidkerke ondersteun en geïmplimenteer moet word.
Die SARKen WRK (Wêreld-Raad van Kerke) bely beide in hul grondwette Jesus Christus “as God and Saviour according to the scriptures and therefore seek to fulfil together their common calling to the glory of the one God, Father, Son and Holy Spirit.”[8] [9]
As die vrugte van hierdie twee organisasies egter geweeg word, dan sien ons dat hul belydenis in stryd is met hul dade. Dit behoort ons nie te verbaas indien ons die woorde van die Apostel Jakobus in gedagte hou nie:
“Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” – Jakobus 2:19
Verder moet ons ook onthou dat toe Paulus in Macedónië die evangelie verkondig het, het ‘n vrou wat met ‘n waarsêergees besete was vir dae agter Paulus-hulle aangeloop en gesê: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.”[10]
Dus, indien selfs die duiwels kan bely dat God bestaan en die duiwels selfs aan die heidene kan uitbasuin dat hulle na die evangelie moet luister, dan behoort ons te besef dat ons soos die Christene van Beréa[11] moet wees en elke woord (al sou dit uit die mond van die apostels) aan die Bybel moet toets. Ons moet dus nie dieSARK en WRK slegs op grond van hul belydenis glo nie. Ons moet ook hul dade toets aan die hand van God se Woord.
Verder is dit ook belangrik om te let op die woorde van Christus in Matteus 7:
“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.” – Mat 7:15-18
Daar is egter nog ’n ander baie belangrike rede hoekom ons moet weet wie en wat die SARK is: Die GKSA het verlede jaar lidmaatskap van die International Conference of Reformed Churches (ICRC) verkry. As ons na die grondwet van die ICRC kyk dan staan daar onder die hofie “Article 4 – Membership”:
“Those churches shall be admitted as members which:
a. faithfully adhere to the Reformed Faith stated in the confessional documents listed in the Basis, and whose confessional standards agree with the said Reformed Faith;
…
d. are not members of the World Council of Churches [WRK] or any other organization whose aims and practices are deemed to be in conflict with the Basis; ”
Die punt is dat indien die SARK ‘n dogterorganisasie van die WRK is, dan loop die GKSA die gevaar dat ons lidmaatskap van die ICRC kan verloor. M.a.w. ons lidmaatskap van die SARK kan daartoe lei dat ons ekumeniese bande met mede gereformeerdes sal moet sny.
Op die ICRC-webblad staan die volgende oor die GKSA en SARK lidmaatskap (Dit was tydens die 6de vergadering van die ICRC). (Duidelik kan die Sinode se besluit ICRC-lidmaatskap ingedrang bring):
“55.2 GKSA
Rev Dr Knight pointed out that Rev Smit had reassured the meeting that the GKSA would act according to Scripture and confession but had not said what he hoped the result would be. He also expressed his view that the ICRC’s Constitution’s condition for membership that churches should not be members of the World Council of Churches or any other similar organization (Minutes 2001, page 264) communicates a perspective: we should not have relations with churches going in a direction contrary to our own, because of the impact that may have on us.”[12]
“Opinion was divided. One view, following the committee’s, was to exercise caution and defer membership until the outcome of the GKSA’s synod in 2006 be known. The other view was that the GKSA should be granted membership, because it does satisfy the requirements of the Constitution at the present time, without adding unconstitutional conditions. This way of supplementing the Constitution in an ad hoc manner was dangerous and to be avoided: it would result in a legalistic morass.” [13]
Dit is insiggewend om daarop te let dat meer as 50% van die kerke waarmee die GKSA in korrespondensie verkeer, ook lidmaatskap van die ICRC het[14]. Daar bestaan dus die gevaar dat die GKSA se lidmaatskap van die ICRC beëindig kan word en dat ons dus in effek dan gemeenskap opgesê het met 50% van ons korresponderende kerke.
Hierdie dokument poog dan om juis die volgende te doen:
- Ons sal kyk na die SARK en WRK verwantskap.
- Ons sal die SARK en WRK weeg aan die hand van hul vrugte.
- Ons sal ook kyk na die uitsprake van ampsdraers van hierdie organisasies.
Eers nadat ons bg. gedoen het sal ons by die punt kan kom waar ons self sal kan besluit of die SARK/WRK se belydenis in lyn is met hul dade. Eers dan sal ons kan sê of dit reg of verkeerd is dat die GKSA vir lidmaatskap by die SARK aansoek wil doen.
[1] http://www.gksa.org.za/sinode2006/14.1%20Rapport%20Deputate%20Owerheid%20p170-177.pdf bladsy 172-175
[2] Slegs die Skrif: God openbaar Hom in die Skrif. Ook openbaar Hy aan ons alles wat ons nodig het vir ons verlossing. Daar is geen openbaring of woord van enige mens of selfs van enige engel wat kan byvoeg by die Bybel nie.
[3] Slegs Christus: Die enigste weg tot verlossing is deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus. Geen daad of optrede van die mens kan enige bydrae tot sy verlossing maak nie.
[4] Slegs geloof: God skenk aan die mens deur die Heilige Gees die ware geloof – ons kan Hom ken en vertrou – en deur hierdie geloof alleen word die mens gered.
[5] Slegs die Genade: Geen daad van die mens verdien enige guns of gawe van God nie – en beslis nie verlossing nie. Omdat God die mens liefhet, begenadig Hy Sy kinders, en word hulle verlos.
[6] Alleen die eer van God: Die mens se doel op die aarde is om te leef tot eer van die volkome en volmaakte God. Alles wat die mens dus dink, doen en sê moet dus God se eer en heerlikheid uitbasuin.
[8] http://www.oikoumene.org/en/resources/documents/assembly/porto-alegre-2006/1-statements-documents-adopted/institutional-issues/constitution-and-rules.html
[10] Handelinge 16:17-18
[11] Handelinge 17:10-11