
“Ek bely nie Christus nie – as ek met die hardste stem en die suiwerste verklaring elke deel van die waarheid van God verkondig, behalwe daardie klein puntjie waar die wêreld en die Duiwel huidiglik aanval – ongeag hoe kragtig ek Christus mag verkondig. Daar waar die aanval is, daar word die lojaliteit van die soldaat bewys, en, om standvastig te wees in die hele oorlog, maar in daardie spesifieke aanval terug te deins, is om te vlug en is ‘n skande .” – Luther
Die afgevaardiges is besig om reguit te praat tydens die GKSA se sinode 2012. Sekere afgevaardiges noem met trots hoe hul reeds al jare lank Gesange sing ongeag ons kerke se besluite daaroor, en dit word heel gedweë aanvaar as dit heel normaal is.
Ander gemeentes het ongeag ons besluite in 2009 voortgegaan om vroue as ouderlinge te verkies, en in plaas van dat hul op die kerklike weg aangespreek, vermaan en getug is (wat ware liefde vereis), is hul op allerlei ‘kerkordelik karate’ wyses beskerm sodat daar geen sprake was van die toepassing van die derde kenmerk van die ware kerk nie (NGB art.29). Inteendeel, hulle wat hul aanspreek word nie-amptelik vermaan en dikwels aangespreek oor hul ‘liefdeloosheid’ (sien die kenmerke van die valse kerk in NGB art.29), en ja, ‘onkerkordelikheid’.
So, jy kan openlik die Skrif, belydenis en kerkorde verbreek … maar jy is nog steeds ‘skriftuurlik’ en ‘ordelik’ ?
Dit laat ‘n mens besef dat hierdie week wat DV voorlê die wese van ons kerkwees gaan bepaal. Tyd vir doekies omdraai is verby en elkeen, van die afgevaardiges tot elke lidmaat wat met spanning die sinode volg, sal opnuut biddend moet besin oor wie ons gaan volg, veral gesien in die lig van die pogings om die GKSA nou ook onder die dekmantel van die staat te kry via die SARK lidmaatskap, die betrokkenheid by die NG parlamentêre stoel en as lid van die Godsdiensraad (waarvoor die gereformeerde lidmaat natuurlik ook moet betaal). Sien die Agenda 16.1; Aanvullende Agenda, 16.1; 16:13,14,15,23, asook my vorige skrywe:
GKSA sinode 2012: DIE GKSA EN DIE SARK/WRK
Ek vra u voorbidding vir ons gereformeerde broers wat wel op die vergadering spreekreg het, dat ons vir hul die woorde bid van Ef.6:
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — 18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 19 en vir my, sodat ‘n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak, 20 waarvoor ek ‘n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek.
‘n Mens is dankbaar vir die broers wat reeds met soveel vrymoedigheid spreek, mag hul daarin voortgaan en nie moed opgee nie, ongeag die ‘kerkordelike kettings’ (selektiewe toepassing en gebruik van die KO) waarin hulle hul baiemaal bevind.
In my bydraes vir die week wat voorlê, wil ek aan u die volgende artikels bekendstel of weer aan herinner. Daar is dalk lesers – veral van die NGK en NHK – wat dink die saak oor VIDA is nie so belangrik nie, daar is ander sake wat ‘belangriker’ is. Nee my broer en suster in Christus, ek vra dat u biddend die volgende 4 artikels lees, en dan sal u sien die wese van ons kerkwees, geloof en belydenis word aangetas in hierdie saak, ook die toekoms van ons kerke. Daar is baie, oneindig baie meer op die spel as bloot wie ‘sit in die ouderlingsbanke’, die onderskeid tussen die ware en die valse kerk is op die spel (NGB art.29).
Hier is die artikels:
1. Vrou in die amp en homoseksualisme
“Samevattende konklusie:
a. As VIDA apologete die ampte kwessie losmaak van Gen 1 en 2 (die skeppingsordening), d.w.s. dit bepaal nie meer ons kerkregering nie; dan is daar geen rede waarom die homo apologete ook die huwelik, gesin en die res van die lewe kan losmaak van Gen 1-2, die skeppingsordening nie. Dit is wat Paulus ons op wys wat gebeur as die Skepper en sy skeppingsorde losgelaat word, Rom.1:18-32.
b. As die GKSA God se duidelike bevel dat die vrou nie oor die man mag regeer of leer nie, verwerp, wat verhoed die GKSA om later nie ook die duidelike bevel – dat ‘n man nie by ‘n man mag lê soos by ‘n vrou nie (Lev.18:22; Rom.1:27; 1 Kor.6:10; 1 Tim.1:10) – ook gaan verwerp ?
c. Alles staan en val by of ‘geslag’ (God se skeppingsorde vir die mens, man en vrou) en die huwelik nog steeds in Christus se koms en herstellende reddende werk vir die kosmos ‘baie goed’ (Gen.1:31) is of nie, en of Christus dit deur sy koms opgehef het (d.w.s. genade vernietig die natuur). VIDA en homo-apologete se ‘ja’ (tye het sogenaamd verander, ons het verder ‘ge-evolueer’?); die ware gelowige en ware kerk van Christus bely ‘nee’, en deur God se genade in Christus handhaaf ons die skeppingsorde, heilig dit in sy diens, tot lof van sy Naam in beide gesin en gemeente en gemeenskap.”
2. VIDA in ons kerkverband in die lig van die Heilige Skrif en belydenis
“Nie hulle wat getrou wil bly aan die Heilige Skrif, ons belydenis en wat ons kerke al vir 150 jaar bely (en die Christelike kerk al vir 2000 jaar) oor die vrou in die ampte – is besig om die kerk te skeur of onrus te veroorsaak nie, maar hulle wat menslike versindsels (vroue in die besonderse ampte) wil invoer (wat eiewillige godsdiens is, sien 1 Sam.15:22,23; 1 Kon.12:31), is besig om die ‘eendrag en eenheid’ van ons kerkverband aan te tas, en moet opgeroep word tot bekering (soos die GK Carletonville die afgelope 2 jaar gedoen [2010/11] het met die pad wat ons oor die Linden-saak met die kerkverband bewandel het).
In plaas van dat die kerk soveel aandag skenk aan wie in die ampte moet en mag dien terwyl die Bybel reeds duidelik is daaroor, moet ons kragte daarin gaan om ons gesinne te help en veral ons vrouens om weer hul ‘rol as moeders’ te aanvaar (1 Tim.2:15) en dit tot eer van God in die gemeente te ontplooi. Sien verder bv. Spr.31:10-31; 1 Tim.5:14, Tit.2:3-5, ens.
Moontlike kerkverbandelike implikasie: dit is ons gebed dat hul wat die Here se skeppingsorde en die gesag van sy Woord omver wil werp, hul daarvan sal bekeer. Dit is ons hoop dat by die komende sinode (Jan.2012) hierdie verdere rewolusionêre en onordelike optrede nie goedgekeur sal word nie, nl. dat die vrou tot die amp van ouderling en predikant verkies mag word nie. Sou dit wel gebeur, sal ons as kerkraad biddend saam moet oorweeg of ons God of mense meer gehoorsaam gaan wees (Hand.4:19; 5:29), want die Heilige Skrif (sien 1 Tim.2:11-15 in die lig van 1Tim.6:3-5) en ons belydenis (NGB art.30,32) roep ons daartoe op. Wat die implikasies gaan wees vir ons klassis en kerkverbandelike opset, sal ons dan met gehoorsame wysheid moet oorweeg.”
3. VIDA in die lig van die Pinkstergebeure
“Kortom: as daar ooit ‘n tyd/geleentheid/oomblik was in die heilsgeskiedenis, waar die vrou tot die ‘besondere ampte’ verkies moes word, dan was dit met die verkiesing van nog ‘n apostel (Hand.1), toe diakens met die weduwee-krisis verkies is (Hand.6), en met verdere aanwysing van ouderlinge (14:23). Maar, ons vind niks daarvan nie.
Wil die voorstaanders van VIDA ons nou regtig vertel dat ‘die Woord en Gees’ het nou skielik tot ons geslag (in die 20ste eeu en daarna) alleen gekom om ons anders te leer, en hierdie ‘nuwe insig’ te gee (1 Kor.14:36?), wat Hy nie eens aan sy Apostels en Profete geopenbaar het nie, wat die “fondament” van die Kerk is, terwyl Jesus Christus die Hoeksteen is (Ef.2:20). Moet ons nou dink dat die geloof wat eenmaal oorgelewer is (Jud.3), toe nie heeltemal oorgelewer is nie, en dat ongeag dat die apostelamp ge-eindig het in die eerste eeu (Hand.1:21,22; 2:43; 2 Kor.12:12), daar vandag ‘nuwe apostels’ opgestaan het wat ons nou verdere of andere openbaring gee oor hierdie saak ?”
Sien ook die volgende drie relevante artikels:
Wys die probleme uit van die GKSA sinode 2009 besluite
“Die GKSA se sinode besluit om vrouens as diakens te verkies is in stryd met die Skrif (1 Tim.3), die belydenis (NGB art.30) asook die weg wat artikel 31 van ons Kerkorde aandui, aangesien die belydenis nie vanuit die Skrif weerlê en verander is nie.”
“Gevolglik word daar in die geval van doopbediening deur ’n vrou baie swaarder gesondig terwyl die reël wat deur Christus gegee is, openlik daardeur geskend word. Ons weet immers dat dit sonde is om dit wat God saamgevoeg het, uitmekaar te skeur.” – Calvyn
“… Konklusie: die gnostieke, marcionisties-dualistiese dwalinge van die eerste eeue, is nog lewendig, baie lewendig in die kerke vandag. Die Here het in sy raad en wysheid bepaal dat liefdevolle leierskap en gesag aan die man sal behoort wat aan die vereistes van die Skrif moet voldoen. Daar is ‘fisiese’ en ‘geestelike’ vereistes, ‘natuur én genade’ vereistes, soos ons dit lees bv.in 1 Kor.11:2,3; 14:34-40; Ef.5:21-33; 1 Tim.2:11-15, 1 Tim.3; Tit.1, ens. Die ‘evangeliese marcionistiese feministe’ (König en kie) stel die genade teenoor die natuur, as hul beweer dit gaan net oor ‘geestelike vereistes’ en nie ‘natuurlike vereistes’ nie. Nee, dit is albei, soos die Vader van die OT en NT dit bepaal het, en soos sy Seun dit bevestig het.”
Ek neem met groot kommer waar wat in ons sinode bespreek word. Dit wil lyk of die aanslag die grootste is by ons sinode en dat baie predikante en afgevaardiges inval by die aanslag. Daarby laat ons humaniste soos Neels Jackson toe om berig te gee oor die werksaamhede van die sinode. Ek voel werklik dat ons sonder hom kan klaarkom, aangesien hy die publiek en die afgevaardigdes wat die veranderinge voorstaan, versterk in hulle veroordeling van die ware kerk en dat die sinode daarom nie maar kan voortgaan met werklike sake sonder die druk van buite nie. Hy het met ander woorde ‘n te groot invloed op die werksaamhede van die sinode en moet daarom verbied word by die sinode.
Heelaas lyk dit of hierdie predikante wat dwaal veral met betrekking tot die ampte vir vroue (oudeling en leeraar) ook nie vermaan gaan word nie en dat hulle blykbaar maar kan voortgaan met hulle dwaalleer en sondes. Waarom hulle die Gereformeerde Kerk wil kom besoedel met hulle dwaallere en nie maar net oorgaan na die NG kerk nie sal ek nooit verstaan nie. Hulle sal kerkskeuring veroorsaak met hulle dwaallere.
Ek hoop en (veral) bid dat hierdie sinode nie ‘n skeuring sal veroorsaak nie. Dit wil egter lyk of elke lidmaat na hierdie sinode sal moet besluit of ons nog regtig glo in dit waarom die Gereformeerde kerk in 1859 gestig is en of ons daarvan wil afwyk en maar saam met die stroom sal dryf. Glo ons nog werklik in die waarheid van die Bybel of word die Bybel maar nou as ‘n soort van ‘n bevesteger gebruik vir my eie standpunte. Laas genoemde lyk baie moontlik as gesien word hoe teksverse deur predikante so uitmekaar getrek word net om sy standpunt te regverdig.
Ons moet heel eerste vra wat wil God he moet ons doen en ons eie agendas en die wense en emosies van mense opsy skuif.
Groete
Jaco Wattel
Ons moet dit maar in die gesig staar dat die GKSA van 2012 nie meer dieselfde is as die een wat in 1859 gestig is nie. Die GKSA het gedeformeer vanaf die gesag van God se Woord en ook die Gereformeerde Leer. Die gereformeerde leer is deur humanistiese en menseregte kultuur vervang. Op meerdere vergaderings word feitlik alle besluite met meerderheidsstemming geneem,ipv te kyk wat God se Woord daaroor sê en dan tot konsensus in lyn daarmee te kom.Kan ons God se seën verwag op besluite wat lynreg staan teenoor dit wat Hy aan ons in sy Woord beveel?
Slabbert, jy slaan die spyker op die kop.
Wees maar net verseker dat al sou die beswaarskrifte nie slaag nie, SAL die evangeliese feministe en egalitariers (liberaliste??) weer en weer terugkom totdat hulle hul sin gekry het. En dan sal hulle, soos by Willow Creek gemeente in die VSA, van alle lidmate vereis dat hulle VIDA MOET ondersteun. Hierdie is beslis nie ‘n onskuldige saak nie soos jy tereg uitwys.