Gedenk julle voorgangers (Hebr.13:7) – nr.5: NGB artikel 29 en die NGK/GKSA

Dit is goed om in tye van kerkverval en deformasie die kerkgeskiedenis te lees, en dan veral wat van ons voorgangers geskryf het, wat ook die doel is van hierdie afdeling van Pro Regno, om ons voorgangers te gedenk, en hul geloofsvoorbeeld na te volg (Hebr.13):

 7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.

Met die troosvolle wete dat die ware geloof verbind ons met Adam, Noag, Abraham, Dawid, Jeremia, Petrus, Johannes en Paulus – en alle ander gelowiges deur die eeue (Hebr.11), want (Hebr.13):

8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

In hierdie uitgawe luister ons na twee gelowiges van die verlede, waar hulle in hul tyd reeds gewaarsku het, en wat profeties is vir ons tyd, vir elkeen wat Jesus en sy kerk liefhet.

A. Prof. E.E. van Rooyen (NG oud-leraar en professor aan die teologiese skool in Stellenbosch toe hul nog soos kindertjies in die Bybel geglo het)

Dr. E.E. van Rooyen, in sy kommentaar op die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.29 – die kenmerke van die ware en valse kerk (Stellenbosch: Pro Ecclesia Drukkery, 1948, bl.231,232), skryf as volg (beklemtonings bygevoeg):

Die Merktekens van die Valse Kerk op Aarde

‘n Ou Latynse gesegde leer dat ‘die bederf van die beste die slegste vorm van bederf is’ (corruptio optimi pessima). Die gesegde is ook waar ten opsigte van die Christelike Kerk. As ‘n goddelike stigting was hy iets seer goeds, maar tog was hy vatbaar vir bederf. Bederf het ook ingesluip. En as die ingeslope bederf in een of ander afdeling van die Kerk nie betyds gekeer word nie, lei dit tot iets wat baie sleg is, t.w. ‘n valse Kerk. Ons artikel wys dan ook op die bose verskynsel van so ‘n valse Kerk. Dit geskied in die volgende bewoordinge:

“Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. ….

Die valse Kerk in sy Protestantse verskyningsvorm

Dit word nie in die Artikel genoem nie, maar word tog hier deur ons net ewe genoem. En wel omdat die bose verskynsel van Kerkvervalsing ook menige Protestantse Kerkreformasies sedert die tyd van die Hervorming diep aangetas het. Dit is dié Kerke waarin die holle, heillose modernisme vaste voet en die oorhand gekry het. In daardie Kerke is die vervalsing nog erger as die Roomse Kerk. Immers die Woord van God word eenvoudig weggekritiseer; aan die hoogheilige Persoon van Christus sy Godheid ontsê, Sy soendood weggedoesel, en die twee sakramente van alle ware betekenis ontdoen. Verskillende Protestantse Kerke is reeds diep deur hierdie kwaad aangetas.  Mag ons Ned.Geref.Kerk en ander Geref. Kerke daarvoor bewaard bly.”

Met die infiltrering van die Nuwe Hervorming beweging en tendense wat deur die NGK geakkomodeer en/of verdra word; die Skrifkritiese onderrig en kritiek teen bv Genesis; die volgehoue weiering om hulle te tug wat in leer afdwaal; en die vervolging van hulle wat hul oor hul dwalinge aanspreek (sien die boek van die oud-teologiese student, Ferdie Mulder – Opgestaan), wonder ‘n mens wat dr. van Rooyen vandag sou gesê het van sy geliefde kerk, veral die laaste sin van sy aanhaling hierbo ?

Dit help bv nie om mooi korrek in amptelike kerkbesluite en verklarings te sê “ons glo in die liggaamlike opstanding van Christus”, maar in die praktyk hulle wat daardie leerstuk (en andere verloën) te beskerm, akkomodeer en te verdra in jou geledere nie, en dan juis hulle te vervolg en te verban wat jou oor jou leerdwalinge aanspreek nie (sien NGB art.29 se kenmerke van die valse kerk hierbo).

“En wat noem julle My: Here, Here ! en doen nie wat Ek sê nie” – Luk.6:46

Dieselfde geld vir die GKSA, dit help nie jy neem leerbesluite (bv. teen die vrou in die amp van predikant en ouderling), maar in die praktyk (in dade) akkomodeer, verdra en beskerm jy hulle wat openlik onskriftuurlik en onkerkordelik vroue in die amp van ouderlinge bevestig nie. En dan, om die kroon te span, word hulle wat volgens Skrif, belydenis en kerkorde/kerkregering ordelik opgetree het en wil optree, vermaan om op “ons missionêre roeping te fokus en nie deur verskille tot strydvrae verlei te word nie.”

20 Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.  21 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen. – Lukas 8

Die vrae kom op vir die ware gelowige, ware kerkrade en ware gemeentes:

Gaan ons sinodes wat verkeerde besluite neem meer gehoorsaam wees as die enigste Koning van die Kerk, ons Here Jesus Christus  (Hand.4:29; 29) ?

Kan ‘n sinode direk en/of indirek enige leraar, kerkraad of gemeente verbied om nie tydig en ontydig (2 Tim.4:2) teen die wesentlike dwaling van VIDA te waarsku nie, wat nou vir ‘n verdere driejaar vrye toegang het in ons kerke, en lidmate verder gaan verstrooi ?

Gaan ons hulle wat ‘n valse vrede verkondig en onordelik optree meer gehoorsaam wees as die Here wat deur Paulus beveel:

12 Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.  13 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het,  14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus

En, deel van die goeie stryd is om die gebod van 1 Tim.2:11,12 te bewaar, onberispelik te bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus.

Gaan ons sinodes wat met ongelowiges en heidene aan dieselfde juk wil trek (deur ‘samewerking’ aan die Godsdiensraad vir ‘godsdiensregte’) gehoorsaam wees en met ons bydraes hul intergeloof samewerkings subsidieër ?

Elia het nie saamgewerk met die Baalprofete om by Agab te gaan ‘getuig’ oor sy afgodery en onreg nie, ook nie later as hy Nabot se wingerd steel nie (1 Kon.18-22); en, Paulus het nie saam die heidense filosowe ‘saamgewerk’ om by die Romeinse keiser te gaan ‘getuig’ oor ‘gemeenskaplike sake’ nie, Paulus het nie eers ‘saamgewerk en getuig’ saam met die Fariseërs en Sadduseërs nie (Hand.22, 23), maar beide heidene en Fariseërs/Saduseërs (die WRK/SARK van sy dag?) opgeroep to geloof en bekering:

30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,  31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.  (Hand.17; sien ook Hand.26) 

Hoekom het ons kerke die Godsdiensraad nodig om te ‘getuig’, ons het reeds die bevel en mandaat van Hand.9:15; 1 Tim.2:1,2; 2 Tim.4:1,2; ens., en is dit reg dat ons met ons finansiële bydraes die Godsdiensraad ondersteun, in die lig van 2 Kor.6:14 ev ?

Die NGK is al reeds kop in een mus met die SARK/WRK (dr. Kobus Gerber van die NGK, wat ook ‘n groot rol gespeel het om van Ferdie Mulder ontslae te raak, is in 2010 verkies tot een van die visepresidente van die SARK. Dit is dan ook g’n wonder dat hy die afgelope week so ontsteld was dat die GKSA nie die ‘Memorandum van Ooreenkoms’ met die NGK ingestem het nie, en hy is seker ook ontsteld dat die GKSA (weer) nie deel geword het van die SARK nie.

B. Ds. MJ Booyens (oud leraar van die GKSA, spesifiek die GK Parys)

In sy verklaring van die NGB, “Ons glo en bely”, spesifiek art.29 oor die kenmerke van die ware en valse kerk, is daar ‘n belangrike deel oor die ‘kerklike toestande van ons tyd’. Onthou, die boek is reeds geskryf/uitgegee in 1980 (Potchefstroom: CJBF), wat sou ds. Booyens vandag alles gesê het as hy op sinode 2012 was ?

Die feit dat die NG kerk al pens en pootjies die Belhar se ‘godsdiens-van-die-rewolusie’ bevrydingsteologie gesluk het, vrede gemaak het met die ongelowige ‘twyfel’ van Julian Muller (kontra HK So.7), die Nuwe Hervorming denke verdra, al wat dwaling deesdae akkommodeer; en die GKSA sterk oppad is daarna met sy soeke na die SARK, die deelname aan die NG parlementstoel en aansluiting by die Intergeloof Godsdiensraad – maak hierdie skrywe en aanhalings van ds. Booyens baie aktueel. Beklemtonings is bygevoeg. Hier is ds. Booyens aan die woord:

 ENKELE AANDUIDINGE VIR VERDERE BESINNING OOR DIE KERKLIKE TOESTANDE IN ONS TYD

Hoe laat is dit in die nag?

‘n Mens kom wel voor die vraag te staan of die ekumeniese strewe van “christelike kerke” in ons tyd nog “christelik” is, veral waar die kerk hom losmaak van die “vertikale” band met die transendente God en “godsdiens” bloot sien as “horisontalisme” — liefdesbeoefening tot jou medemens.

In die verband het ‘n groep behoudende teoloë uit die Hervormde Kerk in Nederland onlangs ‘n “Getuigenis” uitgereik waarin hulle beswaar maak teen die afwykinge. Dit is nuttig om enkele gedagtes daaruit aan te haal, sodat ons ons ook kan besin oor hoe laat dit al geword het op kerklike terrein.

Die vraag is of die kerk nog kerk is.

Het ons nie alreeds hier te doene met die “groot afval” waarvan Paulus spreek in 2 Thess. 2:3, 4 nie? Veral waar die “godsdiens van die rewolusie” gepreek word en nou aansluiting by die Marxisme gesoek word, lyk dit asof die ryk van die Antichris voorberei word in samewerking met die “valse godsdiens”. (Ons haal nou verder vry aan uit die “Getuigenis”.)

Allerlei wind van lering

“Te midde van die huidige geestelike verwarring op kerklike en teologiese gebied, rig ons ons met hierdie Getuienis tot die gemeente van Jesus Christus op alle plekke van sy heerskappy’, ‘n gemeente wat dreig om moedeloos, onseker, twyfelend en wankelmoedig te word, omdat hulle op en neer, heen en weer, geslinger word onder die invloed van allerlei wind van lering (Ef. 4:14).

Die gemeente moet sy geloof bewaar, terwyl in die prediking die voorkeur aan twyfel bo sekerheid en aan ,diskussie’ bo die leer (doctrina) gegee word. In plaas van ‘n duidelike onderrig in die waarheid van Christus word aan die gemeente skeptisisme geleer. Ons bedoeling is slegs om op die geloofspunte nadruk te lê wat in die huidige tydsgewrig op ‘ondeugdelijke’ gronde bestry of verswyg word.”

Geen ware evangelie meer

Dit is glashelder dat die huidige kerklike krisis ‘n geloofskrisis is. Die prediking en teologie van vele gaan nie meer daarom om die Evangelie anders of nuut te sê nie, maar om geheel nuwe dinge te sê, waarin die boodskap van die Woord van God nie meer deurklink nie. Godsdiens en geloofsworsteling word geag as ‘n oorwonne saak terwyl kommer oor persoonlike heil as ‘n vorm van selfsug geag word. Met die gebed weet hulle geen raad nie. Van ‘n ander en hoëre wêreld word nie gespreek nie: dood is dood. (Soos ‘n dier — M.J.B.). Die hemel word ‘n mitologiese voorstelling genoem. Alles wat bowêrelds (transendent) is word verwerp as oorwonne Grieks-dualistiese denke. Om te praat oor: God is dood, hou duidelik veel meer in as die prysgawe van ‘n bepaalde Godsvoorstelling. Ontstellend is die platvloerse en gemeensame wyse waarop, dikwels in die kerk, die teologie en die prediking oor God en die heilige dinge gepraat word (dink hier maar aan al die ongelowige drek wat op die Kerkbode gespreksgroepe al in die verlede versprei is – slc).

God woon nie meer in onaantasbare majesteit bo die aardse gewemel nie … Nee, Hy word getrek binne die grense van ons bestaan omdat ons bo en buite ons horison geen werklikheid meer wil erken nie. Dit is die diepste oorsaak waarom die Evangelie in ons tyd geabsorbeer word deur die geskiedenis en dat die geskiedenis skynbaar sal uitmond in die Koninkryk van God. Omdat die mens homself en sy aardse werklikheid verabsoluteer, word hy afgestomp vir alle besef van God se vrymag en verhewenheid bo die wêreld.

Die Christologie word ‘n Jesuslogie waarin Christus as die aardse “Jesus-Messias” en die “Man van Nasaret” geteken word, wat al die trekke van die rewolusionêre afgode van ons tyd dra. Die ryk van God word ‘n afspieëling van radikale, rewolusionêr-politieke wens-drome. Die beoogde vryheid, wat in wese die mens onderwerp en slaaf maak van die wette van sy eie bestaanssituasie is ‘n geheel ander vryheid as die van die kinders van God (Rom. 8:21).

‘Ons Getuienis’ gaan teen die hoogmoedige en onverdraagsame mentaliteit, wat die Evangelie verbaster tot pure aardse messianisme.

Teen die onskriftuurlike werkheiligheid, wat die christelike geloof vereenselwig met ‘n bepaalde maatskaplike en politieke betrokkenheid. Teen ‘n moderne sinkretisme, waarby die belofte van die koninkryk van God vermeng word met ideë, wat hulle oorsprong nie in die Bybel het nie, maar in humanistiese en ateïstiese ideologieë. Teen ‘n verpolitisering en vermaatskapliking van die Heil in die sin van ‘n opstand teen die gevestigde orde (die sg. “establishment”) en ‘n omverwerping van die huidige maatskaplike-politieke orde en strukture (dink maar aan die nuwe SA wat met al sy rewolusie en opstand teen God en sy gebod, deur baie kerklike leiers gedoop is as ‘goed’, ook leiers van die NGK en die GKSA – slc).

Die Bybel spreek totaal anders oor die mens en sy verlossing.

Daar word die mens allereers as verantwoordelike enkeling voor God en die medemens gestel. Vandaar dat die Koninkryk van God nie in die eerste plek ‘n verandering van politieke orde en maatskaplike strukture is nie, maar ‘n verandering in die verhouding tot God en die medemens. Wél klink in die Bybel die protes teen duidelik aanwysbare onreg in die samelewing, maar steeds i.v.m. die innerlike verhouding tot God en die medemens in geloof en bekering. ‘n Mens kan Amos 8 nie lees sonder om ook te luister na Amos 4 nie. Hoewel die gelowige oog het vir sy verantwoordelikheid ten aansien van wêreldse take en opdragte, leef hy so sterk by die besef van die voorlopigheid van hierdie wêreld en lewe, dat hy ‘n innerlike reserwe koester teenoor elke politieke en sosiale druk om die heil in die “hier en nou” te lê.

Hierop gee die ondertekenaars van die Getuienis dan die Bybelse leer teenoor die afwykinge van ons tyd t.o.v. die volgende hoofpunte. (Ons noem dit alleen, aangesien dit alles elders in die behandeling van die belydenis aan die orde was).

  1. Die Liefde tot God en die liefde tot die naaste in die lig van die hoofsaak van die Wet in Matt. 22:35 – 40.
  2. Regverdiging gaan aan die heiliging en goeie werke vooraf (Rom. 4:5). Ons mag nie alleen roem op sondevergewing nie, maar ook die werke doen — Aan die ander kant is die werke vrug van geloof en sondevergewing.
  3. Ons sondes is volkome vergewe deur die soenoffer van Christus aan die kruis (Rom. 3:25; 2 Kor. 5). Daarom versit die ondertekenaars hulle teen die verpolitisering van die leerstuk van die vergewing van sondes (dink maar aan die WVK skuldmanipulasies -slc).
  4. Vleeswording, kruis en opstanding van Jesus Christus is en bly die onwrikbare, objektiewe fondament van die christelike geloof. “Ons verset ons teen ‘n teologie en prediking wat as ‘n moderne vorm van die natuurlike teologie die mens Jesus van Nasaret aan die kruis sien hang as ‘n simbool van alle menslike leed en onreg in die wêreld — Só ‘n prediking het niks meer met die Bybel te doene nie”.
  5. Die opstanding van Christus is ‘n goddelike heilsfeit. “Ons verset ons teen die leer wat dit as ons christelike roeping en taak voorstel dat ons mense deur ons goeie werke, deur ons po­litieke en maatskaplike bedrywighede, Christus tot opstanding sou moet bring, sodat die lot van God en sy Christus afhanklik sou moet wees van hierdie menslike aktiwiteite…”
  6. Die heil kom van God as ‘n wonder van sy genade en word nie deur middel van menslike aktiwiteite in die geskiedenis gerealiseer nie. Vanselfsprekend verwerp ons ‘n teologie wat preek dat God dood is . . .

“Ons verset ons teen die moderne sondeleer, wat die sonde allereers soek in politieke en maatskaplike strukture. Agter die leer lê die oortuiging dat die mens eintlik wel goed is, maar dat die omstandighede hom tot ‘n sondaar maak . . .”

“Ten slotte. Die gemeente van Jesus Christus leef uit die toekoms van die Here. Daarom moet hulle getrou bly aan die beloftes, wat in die Woord van God aan ons gegee is”.

Tot hier ds. Booyens se skrywe.

Slot

Wat vir my teleurstellend is, is dat baie gereformeerde predikante, ouderlinge en lidmate (in beide die GKSA en NGK) nie hierdie hele sameswering en valse ekumeniese strewe (sonder die Woord, sonder Christus en sy gebod) sien kom nie, nie gepla is daaroor nie, of dalk nie wil erken hoe die gereformeerde leer en die gereformeerde kerke al meer saamgesleep word om die new age-agtige Wêreldkerk gedagte te moet dien, die pad terug na Rome en verder.

Mag die Here ons almal bekeer om opnuut sy Woord te herontdek, ook vir predikers en herders na die Here se wil:

  9 Al julle wilde diere van die veld, kom eet! Al julle wilde diere in die bos!  10 Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.  11 En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam.  12 Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot! – Jes.56

  14 Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring.  15 En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand. – Jer.3

Ons gesin sing tans tydens ons huisgodsdiens Psalm 69.

Die laaste vers het ons aangegryp in hierdie droewige tye vir ons kerke.

Mag dit vir gereformeerdes wat orals verstrooi is en saam huil oor Sion, ‘n lied van hoop wees vir hierdie en toekomstige tye, en mag dit ook ons gebed wees vir hierdie tye en sy kerk in hierdie land:

69:14 (berymd)

Laat aarde=en hemel Hom dan prys,

die see en al wat dit deursweef!

Want God sal Sion laat herleef,

en Juda’s stede sal herrys.

Dan vind Gods volk ‘n erfdeel weer

en wonings wie sy Naam vereer.

5 thoughts on “Gedenk julle voorgangers (Hebr.13:7) – nr.5: NGB artikel 29 en die NGK/GKSA

Add yours

    1. Yes,it’s a sister church to our Canadian Reformed church
      Greetings ,Albert

      1. Albert, you want our FRCSA brothers and sisters to have a heart attack epidemic break out ! I ‘persecuted’ them for 10 long years and then left for the GKSA. They still commemorate to this day their freedom from oppression 10 years ago !

        No, only joking, it was not that bad.

        My clean family (skoonfamilie?) all belongs to the FRCSA, so I have contact with them and know the churches.

        I was a member for ten years, and when I had to decide where to study, it was Potch, and I then also become a member of the GKSA when I had to decide where I am going to become a pastor.

        We also differ on issues such as the covenant (conditional vs unconditional), worship (RPW; they also allowed for Hymns, as did my denomination, with which I do not agree with), homeschooling, festive days, theonomy, church – nation relations, vision in the new SA, etc. I do not think we will build each other up in the faith if I join, I respect them for their views without agreeing with everything.

        At least the FRCSA is against VIDA, but unfortunately they also decided to allow women to vote in church matters a year or two ago, which I think is a stepping stone to allowing women in office. Of course they will disagree with me.

        Although I think in some issues that the FRCSA is more reformed than the GKSA, I do not at this stage think it would be a good and wise to join another denomination in SA, which I could join wholeheartedly who have some of the same problems my current denomination has. And, I am called to serve in my current congregation until the Lord calls me or lead me somewhere else.

        Thank you for the interest, brother.

  1. Slabbert

    Baie dankie vir die sinvolle skrywe. Ek bid dat die Here ons sal versterk om te bly getuig van die waarheid van sy Woord. Mag hierdie skrywe ook ander gereformeerde gelowiges aanspoor om by die suiwer evangelieboodskap te bly.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: