Posted by: proregno | January 16, 2012

Belangrike besluite van die GKSA sinode 2012 … en my ordevoorstel

GKSA SINODE 2012

U kan op die GKSA webblad gaan kyk na die Agenda wat behandel is: www.gksa.co.za (tussen hakies by elke saak hier onder is die Agendapunt se nommer wat u kan gaan opsoek, let wel soos gewysig tydens die vergadering en later beskikbaar sal wees in die Handelinge van Sinode 2012. Gaan kyk ook hier vir die verskillende dae se verslaggewings oor die verskillende genoemde sake: GKSA sinode 2012). Tussen die besluite is daar ’n paar vrae en opmerkings van my kant af.

Hier is van die belangrikste besluite wat deur die Sinode geneem is:

1. Vertalingkwessies

a. Ons kerke werk voort aan ‘n nuwer vertaling wat tans soos volg genoem word “Die Bybel in Afrikaans: ‘n Direkte vertaling.” (Agenda 14.3)

b. die beswaarskrif teen die gebruik van die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) is onontvanklik verklaar (Agenda 14.4).

Opmerkings en vrae

a. Tydens die sinode het sekere afgevaardiges reeds hul besorgdheid uitgespreek oor sekere aspekte van die komende nuwe vertaling.  Hier is ‘n paar probleme wat ek reeds aangedui het aangaande die vertaling en verklarende notas van die komende vertaling: 2016 vertaling

b. Br. Gert Erasmus getuig nou al baie jare lank oor die probleme en onbetroubaarheid van die NAV deur verskeie beswaarskrifte. Met die sinode se laasgenoemde besluit kan ‘n mens aanvaar dat daar nou finaal afgestap word van die onderwerp. Sien hier my skrywes oor die NAV probleme: 1983-vertaling

2. Die lied in die kerk

Die sinode het art.69 van ons kerkorde verander, en dit lui nou soos volg (die woorde wat beklemtoon is, is nou bygevoeg): “In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander Skrifberyminge en Skrifgetroue liedere wat die Sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerke gelaat.” (Agenda 22.1)

Opmerkings en vrae

Skrifgetroue liedere = Gesange. Dus, ons is nou amptelik ook ‘n Gesangsingende kerk na 153 jaar en vra sommige reeds: het die GKSA nog bestaansreg, ook histories gesien, na hierdie besluit ?

Hierdie besluit gaan bydra tot verdere verdeeldheid in plaaslike kerke, want as daar Gesange gesing gaan word, gaan baie van ons se gewetens gebind word om nie aan die volle erediens deel te neem nie, wat beteken die besluit oor die Lied is in stryd met NGB art.32,

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versindsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

3. Verhouding met die owerheid

1. Oor die Suid-Afrikaanse Raad vir die beskerming van godsdiensregte en vryhede is as volg besluit: “2.1 Die Sinode gee aan die Deputate Ekumensiteit Owerheid-sake die mandaat om die GKSA op die Raad te verteenwoordig. 2.2 Dat begroot word vir lidmaatskapgelde” (Agenda 16.14)

4. “Die Sinode gee aan die Deputate Ekumenisteit Owerheidsake die mandaat om saam met ander godsdienste oor sake van gemeenskaplike belang getuienis te lewer, met dien verstande dat die unieke begronding van die Christelike etiek nie in gedrang kom nie en sodanige getuienis geskied binne die raamwerk van KO, art 49.” (Agenda 16.15)

Vrae en opmerkings

Elia het nie saam die Baalprofete by Agab gaan ‘getuig’ oor sy afgodery en onreg nie, ook nie later as hy Nabot se wingerd steel nie (1 Kon.18-22); en Paulus het nie saam die heidense filosowe by die Romeinse keiser gaan getuig nie, maar hul direk opgeroep tot geloof en bekering (Hand.17:30,31):

30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,  31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.  

Hoekom het ons kerke die Godsdiensraad nodig om te ‘getuig’, ons het reeds die bevel en mandaat van Hand.9:15; 1 Tim.2:1,2; 2 Tim.4:1,2; ens., en is dit reg dat ons met ons finansiële bydraes die Godsdiensraad ondersteun, in die lig van 2 Kor.6:14 ev ?

Ander godsdienste is evangelisasie en sendingterrein, en ‘n samewerkingsterrein nie.

5. Maatskaplike sake (artikel 25.4 in Agenda): ‘n studie moet gedoen word, ‘n ‘omkeerstrategie’ oor hoekom ons getalle so verminder en wat ons daaraan kan doen.

Vrae en Opmerkings

Sien my skrywe by: ‘n Dopper ‘omkeerstrategie’ – ‘n Bekeringstrategie

Ons het be-kering nodig (HK Sondag 33), nie ‘n ‘strategie’ om teenoorgestelde Skrifbeskouings en oortuigings oor leer, diens en tug aanmekaar te probeer hou nie.

6. Artikel 31 van die Kerkorde is verander om nou soos volg te lui: “As iemand ‘n klagte het dat hy deur die uitspraak van ‘n mindere vergadering verontreg is, mag hy hom op ‘n meerdere vergadering beroep. Wat met meerderheid stem besluit is, sal vir vas en bindend gehou word, tensy bewys word dat dit met die Woord van God of die artikels van die Kerkorde in stryd is.”

Vrae en opmerkings

Weet nog werklik nie wat nou die groot verskil is met die nuwe bewoording nie, kan iemand help ?

7. Oor die vrou in die besondere ampte is die volgende ‘ordevoorstel’ op 12 Januarie deur die sinode aanvaar:

ORDEVOORSTEL

1. Dat die beswaarskrifte in verband met die vrou in die besondere dienste eers op ‘n volgende Sinode beoordeel word, aangesien daar sake is wat dringende aandag moet geniet alvorens hierdie beswaarskrifte tot opbou van kerke gehanteer kan word.

2. Motivering

2.1 Die Algemene Sinode 2012 het agt beswaarskrifte in verband met die vrou in die besondere dienste ter tafel. Dit het tydens hierdie Sinode duidelik geblyk dat daar by kerke, ondanks besluite wat tydens Sinodes geneem is, verskille in standpunte en praktyke bestaan met betrekking tot die vrou in die besondere dienste. Al sou die Sinode uitsluitsel op die beswaarskrifte gee, sou dit nie werklik die problematiek rondom die  verskille oplos nie. Die moontlikheid is groter dat – as ‘n beoordeling tans gedoen word – die uitslag die verskille mag verdiep. Die grondliggende rede(s) vir hierdie verskille in standpunte en praktyke behoort eerstens vasgestel te word en konkrete aandag te geniet.

2.2 Die Here het die Algemene Sinode gelei om die missionêre roeping van die Kerke op die voorgrond te stel. Die Sinode het besluit  om ‘n Omkeerstrategie vir die GKSA uit te werk om hierdie roeping na te kom. Indien daar tydens hierdie Sinode uitspraak gegee word oor die beswaarskrifte, gaan die verskillende standpunte nog nie opgeklaar wees nie. Inteendeel, dit kan die fokus vanons kerke eerder op die onderlinge verskille plaas. En daardeur kan die heerlike positiewe en eenparige gesindheid by kerke jeens die besluit oor ons roeping gedemp word.

3. Aanbevelings:

Dat die Algemene Sinode deputate aanwys met die volgende opdrag:

3.1 Om in samewerking met plaaslike kerke te bepaal wat die grondliggende redes is waarom daar, ondanks besluite wat kerke gesamentlik geneem het, steeds verskille in standpunte en praktyke bestaan in die sake waaroor besluite reeds geneem is.

3.2 Om die beswaarskrifte na te gaan en in 2015 te rapporteer.

3.3 Om die Sinode te adviseer:

3.3.1 oor hoe eenheid en verskeidenheid in ons kerke ons missionêre roeping kan dien.

3.3.2 wanneer gaan vryheid in verskeidenheid oor in ongehoorsaamheid aan die Woord.

3.3.3 wanneer die besluite en optrede van die plaaslike kerk die gemeenakkoord in gedrang bring

3.3.4 wanneer kerklike besluite ‘n las plaas op mense se gewetens (NGB,Art. 32)

3.3.5 hoe die Gereformeerde Kerke verlos kan word van ‘n verlammende persepsie van ‘n sterwende kerk tot ‘n helder beeld van ons missionêreroeping. 3.4 Die Sinode doen ‘n ernstige beroep op kerke om in hierdie tyd, totdat die beswaarskrifte afgehandel is:

3.4.1 die verskeidenheid in gebruike in ons kerke met liefde en begrip teenoor mekaar te hanteer in die gees van Rom 14.

3.4.2  nie ander gebruike in te voer, wat verskil van dit waarin kerke met mekaar ooreengekom het of wat tans in kerke in gebruik is nie.

Hierdie oproepe word spesifiek gemaak om kerke in hierdie tyd te help om op die Omkeerstrategie en ons missionêre roeping te fokus en nie deur verskille tot strydvrae verlei te word nie.

Vrae en opmerkings

Beteken dit dat daardie gemeentes wat vrou in die ampte van ouderlinge het nou nie meer getug mag word vir 3 jaar nie, en hoe gaan daar dan saam met sulke gemeentes geregeer word in hierdie drie jaar, aangesien dit in stryd is met 1 Tim.2:11,12 ?

Leonard van der Dussen skryf tereg onder die ‘opmerking/comments’ van die vorige draad die volgende:

“Kerklike daadkragtigheid kom voort uit die instandhouding van die kenmerke van die ware kerk: suiwere Woordverkondiging en sakramentsonderhouding, en instandhouding van die tug. In laasgenoemde het die “sinode” nou besluit dis bietjie te veel moeite en inspanning om die Lindens, Kaapstadte, Wapadrande en ander opsetlike onordelikes tot orde te roep en voor die noodwendige keuse van nakoming van afspraak of uittrede te stel. As die “sinode”, m a w die “GKSA” nie die kenmerke van die ware kerk (Nederlandse Geloofsbelydenis) bevorder nie – nou ja, na wie moet ons nou luister?”

Dit is juis die punt wat ek gemaak het teenoor een van ons behoudende predikante wat die ‘ordevoorstel’ ondersteun het. Ons het vir 30 jaar die saak bestudeer, ons het ‘n spesiale GTV konferensie oor die onderwerp gehou (2008), ons het ‘n verlengende sinode oor die saak gehad (Jan en Jun/Jul 2009) en toe het ons besluit (hoe krom en skeef ookal) dat vroue nie predikante en ouderlinge kon word nie. Ek laat my nie vertel ons was enigsins met mekaar in die GKSA ongeduldig oor hierdie saak nie.  In 2009 het ons aan die einde van die saak gekom, en predikante/kerkrade en kerke moes daarby berus het of die kerkverband verlaat het (sien Visser se, Kerkorde in die Praktyk, art.31) sodat ons almal kon voortgaan met ons roeping en take, veral die ‘fokus’ op sending en evangelisasie wat by sinode 2012 weer gehoor is.

Maar, toe begin ‘n paar gemeentes vanaf 2009 tot nou, buite orde op te tree, en in plaas van die 3de kenmerk van ware kerke wat toegepas word, word hul al drie op verskeie maniere beskerm en ge-akkomodeer vir drie jaar deur verskeie meerdere vergaderings , en nou met die ordevoorstel vir nog ‘n verdere 3 jaar, deur die algemene Sinode.

Intussen word ‘n gemeente soos bv. GK Carletonville – wat reeds ‘n pad met Linden gestap – de facto uit die kerkregering gedwing, ten minste op streeksinode en algemene sinode vlak, omdat ons nie teen die Skrif, belydenis en kerkorde mag en wil optree nie.   Daar is ook ander predikante en kerkrade wat groot probleme het om saam met Wapadrant en Kaapstad gemeentes te regeer vanaf 2009 tot 2011, en seker ook nou in die huidige ordevoorstel tydperk (2012-2015), wat geen orde bring nie.

Hoe ironies is dit, die wat ordelik wil optree word vermaan deur die ordevoorstel om ‘ordelik’ op te tree, en hulle wat al vir drie jaar onordelik optree, word binne die ordevoorstel beskerm en bewaar. Respek vir daardie gemeentes wat ongeag hul pro-VIDA standpunte, ordelik opgetree het en vir 3 jaar gewag het vir die sinode om ‘n uitspraak te lewer.  Hulle kan tereg voel dat reg nie geskied het nie en hul nie aangehoor is nie.

NGB art.29, veral die derde kenmerk, is onder baie groot druk in ons kerkverband, veral omdat dit IN DIE PRAKTYK reeds deur ons kerkverband nie nagekom word nie.  Die derde kenmerk is al meer afwesig, wat juis kenmerke een en twee moet bewaar en in stand hou, soos die afgevaardigde van die Brasiliaanse Presbiteriaanse Kerke, dr. Davi Gomez, ook tydens sy groeteboodskap vermeld het: die suiwerheid van die Woord moet bewaar word sodat die suiwere Evangelie orals verkondig kan word.

Ek begin myself al meer die vraag afvra of baie wat vir die ordevoorstel gestem het, wel werklik oortuig is vanuit die Skrif dat VIDA verkeerd is, en of hul bloot uit tradisie daarteen is ?

Wat nou gedoen in al hierdie klaarblyklike wanorde in die kerkregering, wat nou gedoen op plaaslike vlak ?

Hier is my ordevoorstel, as ek as individu dit mag waag:

1. U moet van u kerkraad verneem wat hul standpunte is oor bogenoemde besluite van sinode 2012 en dan daarvolgens optree.

2. Elke lidmaat, elke hoof van sy gesin moet NGB art.27-29 navolg in die soeke na ‘n gemeente waar hy en sy gesin versorg kan word.

3. Voorstel aan kerkrade:  in die lig van die Ordevoorstel wat erken dat ons kerke in kerkverband verdeeld is oor verskillende standpunte, en dat dit onsekerheid bring by lidmate en gemeentes oor waarheen die GKSA oppad is in leer, diens en tug – daar besin moet word om, totdat die Sinode uiteindelik ‘sekerheid en duidelikheid’ gekry het oor ons eenheid in leer, diens en tug,

a. gemeentes tot dan nie verder deelneem aan die kerkregering op meerdere vergaderingsvlak waar vroue reeds onSkriftuurlik en onkerkordelik in die ampte bevestig is en gehandhaaf word nie.

b. dat in die lig van die onsekerheid en veral nr.3 en 4 hier bo, kerkverbandelike ramings vir die volgende drie jaar nie oorbetaal word nie, maar teruggehou word totdat die GKSA duidelikheid en sekerheid het deur Sinode 2015 in watter rigting ons kerke gaan.

Sodoende word gelowiges en gemeentes se gewetens nie gebind aan al die onsekerheid en onduidelikheid nie, asook nie om hul bydraes vir intergeloofsgroepe (Godsdiensraad) te gee nie, en kan hul met vrymoedigheid nog plaaslik hul bydraes lewer, met die hoop dat die bedoelde orde van die Ordevoorstel tydens Sinode 2015 herstel sal word vir ons kerke saam in kerkverband.


Responses

  1. Ek ondersteun die voorstel heelhartig.Daar is egter twee vrae by my – 1. indien daar gemeentes op klassis en streekssinode is wat vrouediakens het en wat gesange sing sal daar om daardie redes nie aan genoemde meerdere vergaderings deelgeneem kan word nie. of word die ander saak van vroue ouderlinge as ernstiger as eersgenoemde beskou- maw kan ons saam met sulke gemeente regeer. Indien die antwoord tov vrou diakens en gesange ja is kan ons aan geen meerdere vergadering -klassis,streekssinode en algemene sinode deelneem nie 2. .Kan daar dan nie gesê word omdat ‘n gemeente nie aan die meerdere vergaderings deelneem nie die gemeente hoself effektief van die kerkverband losmaak nie?

  2. Hannes, ek hoor jou.

    1. Ons, myself ingesluit, is seker nie altyd konsekwent nie. In die poging tot reformasie, moet ‘n mens iewers begin, en waar ‘n ou begin is daar verskille oor. Deur die jare/dekades het daar al baie besluite geval waaroor ‘n mens beswaard kan voel, ‘n mens kan bv ook vra moet/mag ons nog saam kerke vergader wat die nie-Messiaanse Cloeteberyming aanvaar ?, ens.

    Die feit dat die beswaarskrif teen vroue-diakonesse ook nie aangehoor is (A 21.7) by hierdie sinode nie, help ook nie ons saak nie. Deur die gereformeerde kerke wêreldwyd is daar nog verdraagsaamheid teenoor vroue diakonesse as dit reg verstaan word (weduwee diakens, 1 Tim.5), maar duidelike sterk standpunt teen vroue ouderlinge. Ekself meen die saak teen vroue-diakens is duidelik, maar oor vroue ouderlinge nog baie duideliker.

    Die feit is egter dat omdat die kerkraad (nie die breë kerkraad met diakonesse nie) slegs predikante en ouderlinge afvaardig na meerdere vergaderinge, diakonesse nie oor mans in daardie meerdere vergaderinge regeer nie, daarom kan ek dit nog in my gewete aanvaar om deel te neem aan sulke vergaderinge. As vroue-ouderlinge egter afvaardig en/of self afgevaardig word, dan is dit direk in stryd met 1 Tim.2:11,12.

    2. Jou tweede vraag laat die vraag opkom: wie besluit nou wel of ‘n gemeente buite verband is of nie, ‘n meerdere vergadering amptelik of ‘n sekere verklaring en/of optrede van ‘n gemeente ? Dit lyk my in ons kerkverband heers tans ‘n Rigters 21:25 gesindheid waar elkeen doen wat hy wil ? Ons kerkraad het bv aan ons klassis ‘n brief gestuur waarin ons verklaar dat ons nie saam met Linden kan regeer op streeksinode en algemene sinode vlak nie (daarom dat ons nie verder afgevaardig kan word nie). Hul het bloot kennis geneem en niks verder aan die saak gedoen nie, moes daar nie teen ons opgetree word nie ?

    Visser in sy Kerkorde in Praktyk skryf dat “Om eensydig en eiewillig sulke besluite te ignoreer en te maak asof dit geen regskrag het nie, is onordelik en onaanvaarbaar. In wese is dit nie gereformeerd nie, maar independentisties. Dit kom prakties neer op verbreking van kerkverband.”

    En tog gaan Linden, Wapadrant en Kaapstad (VIDA gemeentes) rustig voort om saam te regeer en leef in die GKSA kerkverband, ook nou met die hulp van die Ordevoorstel vir ‘n verdere 3 jaar.

    Dit lyk dus in die praktyk, reg of verkeerd, ‘n gemeente bly deel van die kerkverband totdat die gemeente self verklaar hulle maak hul los van die kerkverband of as hul deur ‘n meerdere kerklike vergadering buite kerkverband geplaas word (soos met die geval met GK Bloemburg?).

  3. Dankie vir die antwoord. My bekommernis was reeds dit wat met GK Bloemburg gebeur het – kan ons klassis nie ook as ons nie deelneem nie ons buite die kerkverband plaas nie? Ek stem volmondig met jou saam dat ons seker nie altyd oor hierdie sake konsekwent optree nie,maar die vroue diakens en gesange bly vir my ‘n probleem – ons sal egter om wysheid en leiding moet bid oor hoe om dit te hanteer aangesien dit in wese ook teen die Skrif is en en ons tog geroepe is om teen (ek spreek dit dalk nou baie kras uit) dwalinge in die kerkverband en wêreld te getuig

  4. Hannes, dit lyk my elke kerkraad sal moet besluit om die ‘kostes te bereken’ voor hul besluite neem met kerkverbandelike gevolge, soos Christus ons leer in Luk.14:28-32. Dit is baie tragies dat – soos ek reeds hierbo in my skrywe genoem het – dat die ordelikes (bv. GK Bloemburg) uit die kerkverband geskop word, terwyl die onordelikes veilig beskerm en bewaar word.

    Alles begin egter met gelowiges wat hul dan ten minste voeg by gemeentes wat nie vroue in die ampte het nie en alleen die Psalms sing. Grondvlak reformasie: dat almal wat bymekaar hoort al meer bymekaar kom ook.

  5. Ja ek stem saam – op die ou einde gaan daar geeen ander keuse wees dat Gemeentes wat dieselfde glo en bely bymekaar sal moet uitkom nie.
    Baie dankie ook vir jou artikels dit is baie leersaam en insiggewend en my kennis het baie verbreed met die lees van die artikels.

    • As kerkraad na die sinode se orde voorstel n besluit neem om wel voortegaan om vroue diakens aan te stel is daar n weg om so n besluit nie te aanvaar nie?

      • Lampie, huidiglik word die besluite van 2009 gehandhaaf oor VIDA, nl. vroue ‘kan’ as diakens verkies word maar ‘mag nie’ as predikante en ouderlinge verkies word nie. Daar gaan in 2015 weer daaroor besluit word wanneer al die beswaarskrifte daaroor hanteer gaan word (ek dink daar was 8?).

        Dus sal ‘n gemeente wat vroue as diakonesse verkies nie in stryd met die sinodebesluit of die ordevoorstel van 2012 optree nie (alhoewel ek natuurlik glo wel in stryd met die Skrif en belydenis).

        Indien ‘n gemeente egter nou voortgaan om vroue as ouderlinge/predikante te verkies, sal hul direk in stryd optree met 2009 se besluit en 2012 se ordevoorstel besluit. Die sinode het dus iets van ‘n ‘staak vuur’ opgeroep oor die VIDA saak.

        Die sinodebesluit van 2009 (‘n ‘kan’ besluit) oor die diakens – beteken vir alle praktiese doeleindes dat plaaslike gemeentes en kerkrade nou daardie besluit moet neem: vroue as diakens of nie, en dan is die verdere implikasies dat gelowiges wat bv nie met so ‘n besluit kan saamgaan en saamleef nie (en nie met die kerkraad in gesprek wil gaan oor die saak of die kerklike weg wil volg nie), ‘n gemeente moet opsoek waar daar dan wel nie vroue as diakens dien nie.

        Al hierdie ‘kan’ besluite oor leer, (ere)diens en tug (kerkregering) sake, veroorsaak dus op plaaslike vlak tussen kerke ‘kerkskeuring’, want lidmate ry nou by vele kerke verby om by ‘n ander gemeente (in dieselfde kerkverband) aan te sluit volgens die ‘kan’ beginsel (“word aan die vryheid van die kerke oorgelaat”).

        Lampie, ek hoop ek het jou vraag reg verstaan en help antwoord, sien gerus die artikel van dr. George Knight oor of vroue diakonesse mag word hier:

        Kan vroue tot die amp van diakens verkies word ?

        https://proregno.com/2010/01/21/vroue-diakens/

        Oor vroue as predikante en ouderlinge:

        https://proregno.com/2011/12/06/die-rol-van-vroue-in-die-kerk/

        Vra gerus as ek verder kan help dink.

  6. Daar is ‘n interessante berig in Kerkbode aanlyn oor die 2012 Sinode van die GKSA, hier: http://www.kerkbode.co.za/Gesprekke.asp

  7. Baie dankie vir die inligting.My gevoel is terwyl daar beswaarskrifte teen die nou raak dit moelikis dit 2003/2009 besluit behoort daar gewag word vir 2015.
    Dit is nie so maklik om in die platteland by n ander gemeente in te skakel nie die naaste is 100km ver.Daar behoort in 2015 meer duidelikheid te wees watter pad vorentoe.Baie Dankie

  8. Dit is so Lampie, op die platteland is dit moeiliker en ons moet die beste maak wat ons kan. Dit kan dalk ook wees dat daar vroeër meer duidelikheid kom, sien prof.Smit se artikel in die Febr. Kerkblad.

  9. Is dit moontlik dar iemand vir my kan se van die 8 beswaarskrifte hoeveel was oor die vrou as diaken

    • Net een volgens my kennis, ‘n beswaarskrif teen die vrou as diaken.

  10. Baie dankie ek wou net seker maak

  11. Ek stel voor dat die lidmate, predikante, teologiese professore wat nog vasklou an die 150 Psalms van die Totius beryming, en hulle nie kan vereenselwig met die nuwe beryming van TT Cloete en die liedere van ons NG Kerk se Liedboek mee kan vereenselwig nie, die Gereformeerde Kerk verlaat en by die Afrikaanse Protestantse Kerk op hulle dorp of naburige dorpe gaan aansluit. Edwin Müller, Sasolburg

    • Edwin, dankie vir jou voorstel, baie interessant.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: