AS DIE HUWELIKSFONDAMENTE (WEER)
OMGEGOOI WORD
Die nuutste aanslag, na die onlangse spesiale sinode van die NG Kerk, is deur dr. Chris Jones (Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch), onder die opskrif, Daar is nie ‘n Bybelse huwelik nie.
Dr. Jones skryf onder andere:
“Daar is nie ‘n enkele woord in die Bybel wat die toegewyde verbondsliefde van selfdegeslag-paartjies wat begeer om ‘n familie te word, eksplisiet verbied nie. Om jouself in liefde vir iemand te gee, is Godgegewe. En dit moet gerespekteer word deur sulke mense toe te laat om hulleself in die huwelik (of verbintenis) te verenig, waarbinne hulle kinders kan grootmaak en laat doop. As ons gays nie hierdie lewensmoontlikheid gun nie, wat guns hulle dan?”
Ek vermoed omdat sosioloë en antropoloë soos Jones en andere die gedagte van die verbond verloor het, daarom kan (en wil?) hul nie meer die huweliksverbond tussen een man en een vrou in die Skrif in sy geheel raaksien nie, maar lees net kieskeurig daarin raak wat hul wil hoor vir vandag se sosiale ‘issues’ en (homoseksuele) agendas wat gedien moet word. Die Bybel moet gebuig en aangepas word vir vandag om ons sondige begeertes en eiewilligheid te akkomodeer (2 Tim.4:3,4).
Dit is ook niks nuuts nie, in plaas van dat ons bid dat die Here ons sal verlos van ons sonde, en ons die krag gee om ons lewe lank teen dit te stry en dit te bely, wil dwaalleraars soos Jones hê dat ons moet bid dat die Here ons sondes goedkeur, en sy seën daaroor moet uitspreek deur sy gemeentes (Rom.1:32).
Hierdie sondige versugtiginge is ook niks nuuts nie (Jak.4):
1 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. 4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.
Teenoor die skielike ‘onkunde’ oor die bybelse huwelik, skryf dr. Jay Adams (beklemtoning bygevoeg):
“All these facts (verwysende na Gen.1 en 2) make it as clear as can be that marriage is fundamentally a contractual arrangment (called in Mal.2:14 a marriage ‘by covenant’) and not a sexual union. Marriage is a formal covenantal arrangment between two persons to become each other’s loving companions for life. …
That covenant, we have seen, is made at the time of engagement by contract (not by sexual union), but the two begin to fulfill all the terms of the covenant only after the wedding ceremony and celebration when they actually begin to live together.” (Marriage, Divorce and Remarriage in the Bible, Zondervan, 1980: 13,15,16)
Ek het Adams se skrywe gebruik in ‘n artikel wat ek ‘n paar jaar gelede geskryf het in antwoord op Neels Jackson se destydse pro saamwoon buite die eg – standpunt in die lig van die poligamie van die Bybelse tyd.
Die sosial-historiese raamwerk oftewel ideologie waarmee Jackson die Bybel lees is dieselfde wat by Jones ook in sy artikel voorkom.
Ek plaas daarom die artikel weer hier onder (met hier en daar klein byvoegings en veranderinge), want dit antwoord ook Jones se dwalinge oor wat die Skrif leer aangaande die huwelik in sy geheel deur die Skrif, en veral wat ons nou moet glo en bely aangaande die huwelik.
(Byvoeging: sien ook die artikel van die Nuwe Hervormer, Piet Muller, Huwelik is nie rêrig ‘n Bybelse instelling, wat in dieselfde trant as Jackson en Jones se artikels geskryf is. Baie insiggewend dat nie een van die drie Jesus se woorde aanspreek in Matt.19 oor die huwelik nie.)
As ek artikels soos die van Jackson toe en Jones en Muller nou lees, dan besef ek opnuut J. Gresham Machen was reg toe hy geskryf het in sy boek, Christianity and Liberalism:
“despite the . . . use of traditional phraseology, modern liberalism not only is a different religion from Christianity but belongs in a totally different class.”
Die boek is belangrike leesstof om vandag se (post)moderne liberalisme te verstaan, want daar is basies geen nuwe dwalinge nie, net oues in nuwe baadjies.
Jones vra, wat gun ons hulle wat worstel met homoseksuele sondes ?
Jesus Christus en Paulus gee die duidelike antwoord, wat elke ware gemeente, predikant, teoloog en lidmaat moet gee, en dit is ware liefde vir jou naaste, ongeag in watter sondes hy vasgevang is:
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. … As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees. ” – Joh.8:32,36
“10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” – 1 Kor.6:9-11
Die liberale teologie (eintlik antropologie en sosiologie) van Jackson en Jones kan maar alleen menseregte aanbied, die Evangelie van Christus bied die ewige lewe, ewige vrede, dit bied die weg, waarheid en die lewe in die weg van sondebelydenis, bekering, vergifnis en heiligmaking, waarsonder niemand die Vader sal sien nie (Joh.14:6; Hebr.12:14).
Sien ook die paar ander artikels en bronne waarna ek verwys onderaan die artikel om te gaan lees, want ek dink al hierdie aanslae op die huwelik vandag, moet ook vir elkeen van sy kinders ‘n oproep wees om ons opnuut te bekeer en te reformeer, volgens die Skrif deur sy Gees, in ons bestaande en toekomstige huwelike, of as ons enkellopend is, alles tot eer van sy Naam, want daar is baie ander aanslae wat ons dalk al aan ‘gewoond’ geraak het en dink dit is darem nie so ‘erg’ soos die sonde van homoseksualisme nie. Maar, voor die Here bly dit alles sondes wat ons moet bely en van bekeer, en teen moet stry ons lewe lank (bv. onreinheid, egbreek, hoerery, onwettige egskeidings en hertrou, en ander 7de gebod oortredinge – lees gerus HK Sondag 41 se verklaring van die sewende gebod.)
As die huweliksfondamente omgegooi word
deur S. Le Cornu
Die afgelope paar jaar is daar opnuut ‘n groot aanslag teen die huwelik. In die Beeld van 9 Desember 2009, skryf Neels Jackson as volg oor die huwelik in die Bybel, onder die opskrif “Kerk wil lappies nie laat rondlê”:
“Daar is lidmate wat wonder waarom die kerk nie bloot by dié “eenvoudige Bybelse waarheid” hou nie. Maar gaan kyk ’n mens wat die Bybel, die kerk se rigsnoer, werklik sê, ís die saak nie so eenvoudig nie. Dát die huwelik volgens die Bybel baie belangrik is, is ongetwyfeld so. Een van die tien gebooie – “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” – wil juis die huwelik beskerm.
Die Bybel ken egter verskillende soorte huwelike. Poligamie is een daarvan. Die aartsvader Jakob kon gelyktydig verskillende vroue hê sonder dat daaroor gefrons word. En dan is daar die sogenaamde swaershuwelik. As ’n getroude man sterf sonder dat hy kinders het, moes sy broer namens hom by die weduwee kinders verwek. Daarby was vroue in Bybelse huwelike dikwels maar as besittings gereken.
Boonop ken die Bybel nie die moderne wyse van huweliksvoltrekking waar ’n huweliksertifikaat die amptelike bevestiging is dat daar ’n huwelik voltrek is nie. Die punt is dat die huwelik volgens die Bybel belangrik is, maar dat die Bybel nie ’n een duidelike voorskrif het van presies hoe ’n huwelik moet lyk nie.”
Maar dit is eensydige en onakkurate omgang met die Woord van God en sy wil vir die huwelik. Wat van Jesus Christus se duidelike bepalende woorde oor hoe die huwelik nou moet gesien en toegepas word (woorde wat Jones ook heeltemal ignoreer):
Matt.19:3-9 3 Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ‘n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? 4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, 5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; 6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. 7 Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei? 8 Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. 9 Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Christus wys daarop dat die huwelik:
- ’n instelling van God is (“Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie”),
- tussen een man en een vrou is (“en hulle twee sal een vlees wees” = dus nie tussen man en man of vrou en vrou nie; ook nie tussen een man en baie vrouens nie),
- sy skeppingsordening en ewige wil vir die mens in hierdie bedeling is (“van die begin af”),
- dat God twee mense bymekaar bring, en dat geen mens hul mag skei nie, en
- dat die OT tydperk, die tye van die ‘sondige verhardheid’ van die mens nie bepaal wat die huwelik is en behoort te wees nie, maar God se skeppingsordening moet ons huwelike nou en vir altyd bepaal (“maar van die begin was dit nie so nie”)
Poligamie, soos egskeiding is verdra weens die verhardheid van die mens se hart soos Jesus dit hierbo stel, dit is nie God se ewige wil vir die mens nie, en moet teen gewerk word, nie aangehelp word nie. As ‘n mens Gen.29 en 30 lees oor Jakob se twee vroue, veral 29:30,31 en 30:1, dan was daar heelwat ‘fronse’ oor poligamie se gevolge. Die swaershuwelik was ‘n instelling wat spesial verorden is vir Israel, sodat hul geslag sou voortduur tot en met die koms van die Messias, en was nie bedoel vir alle tye nie, soos die verdere goddelike Openbaring in die Nuwe Testament duidelik van getuig:
1 Thess.4:3-4 3 Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; 4 dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer
1 Tim.3:2 2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig
Enige goeie en eerlike bybelleser weet jy lees en verstaan ‘n saak, veral ‘n etiese saak in die lig van die hele Openbaring , jy stop nie by Maleagi nie. Anders kan ons mos die heilige uitdelgings-oorloë (Joshua) vandag ook mos navolg, of hoe ? Daarom moet die kwessie van huwelik, egskeiding, poligamie, swaershuwelik, ens. gelees word in die konteks van die hele Bybel, deur Skrif-met-Skrif vergelyk, soos ‘n goeie bybelse professor behoort te leer:
’n Besonder belangrike faset hiervan is die feit dat die eksegeet/hermeneut baie deeglik rekening moet hou met die openbaringshistoriese situasie van enige betrokke Skrifwoord. Ons móét rekening hou met die feit dat dit God behaag het om Hom en sy wil in die loop van die geskiedenis algaande al duideliker te openbaar. ‘n Teks in, sê Eksodus, en ‘n teks in Romeine mag dus nie sommer so gelykskakelend langs mekaar gestel word nie. Die LATERE woord in die Godsopenbaring oor DIESELFDE SAAK is altyd deurslaggewend teenoor die voorafgaande![1]
Verder, is daar reeds ‘van die begin af” (in Genesis 1 en 2 reeds) drie aspekte van die huwelik deur God gegee wat ‘n huwelik kenmerk, waaronder ‘n publieke handeling, seremonie of ‘amptelike bevestiging’ gekoppel is, en wat plaasvind aan die begin en vorming van ‘n huwelik, kontra wat Jackson skryf hierbo.
Dit vind ons in Gen.2:24, wat Jesus aanhaal en bevestig in Matt.19:5,
“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
- Die publieke handeling: “daarom sal die man sy vader en moeder verlaat” (‘n nuwe huis/woning word opgestel, wat konkretiseer in en deur publieke handelinge soos die huwelikseremonie, huweliksertifikaat, samelewingswette, ens.)
- ‘n Permanente band/verbond tussen man en vrou: “en sy vrou aankleef” (man en vrou is ‘vasgegom’ aan mekaar in ‘n lewenslange band/verbondsverhouding, Spr.2:17; Mal.2:14)
- fisiese eenwording deur die seksuele: “en hulle sal een vlees wees” (‘n lewenslange intieme verbintenis slegs tussen die twee persone).
En nou moet ons nie (sondig) maak soos ons dikwels met huwelike maak nie, en skei wat God saamgevoeg het nie, hierdie drie bepaalde aspekte uit Gen.2:24, soos bevestig in die NT deur Jesus en die apostels (Matt.19:5; Ef.5:31,32) moet in harmonie en konteks gehou word met mekaar.
Die misbruik en verdraaiing daarvan (die sondige voorbeelde in die OT van ’n Abraham, Jakob of ’n Dawid), hef nie die ware Godverheerlikende gebruik en toepassing daarvan op vir alle tye nie. (So terloops, ons moet deeglik onderskei tussen verhalende stof en normatiewe stof in die Bybel. Eersgenoemde moet altyd gelees word in die lig van laasgenoemde, en nie andersom nie. So moet die OT gelowiges se poligamie gelees word in die konteks van Gen.1,2; Ex.20:14 en Matt.19:4,5, en nie andersom nie.)
Soos een skrywer dit stel, dat al drie sake in verband gesien moet word:
“Becoming ‘one flesh’ does not in itself make a marriage. The ‘leaving’ and ‘cleaving’ must also be included. And the leaving must be recognized by society and regulated by the laws of the government.”[2]
Let ook op die ‘volgorde’ :
- publieke handeling,
- aanklewing, en dan eers
- sal een vlees word
Vandag, word die orde van God in wanorde omver gegooi deur eers ‘een vlees te word’, dan ‘n verbintenis te maak en dan eers (dalk) die publieke handeling of verbondsluiting.
(As Jackson die bybelse fondament omgooi met sy standpunt, dan is Jones besig om die fondament te vernietig met sy homoseksuele standpunt.)
En, as enige kerk saamwoon, buite-die eg ‘huwelike’ gaan goedkeur, dan gooi hul beide nr. 1 en 2 ook omver.
Inderdaad ‘n “laat ons die Here se bande stukkende ruk en sy toue afgooi” soos dit ons pas (Ps.2).
Miskien is daar soveel aanvaarding van die saamwoon verskynsel, omdat ons juis nie die huwelik volgens God se Woord meer verstaan of wil verstaan nie. Dit het vir ons bloot ‘n menslike kontrak, ‘n sosiale praktiese teorie geword met sy voor- en nadele.
Iets wat ek jammerlik mis in Jackson se artikel, asook die reaksies op sy artikel op die webblad, is die totale gebrek en afwesigheid van God se Openbaring in die gesprek, asook die totale gebrek aan God se eer en sy Naam in die hantering van die onderwerp.
Waar kom dan skielik die behoefte om saamwoon onder sekere voorwaardes goed te praat en te akkomodeer, en sodoende die huwelik te negeer ?
(Byvoeging: Is dit nie maar ook wat ons vind met die NGK se nuutste besluit oor homoseksualisme nie ? Met die een hand word erken die huwelik is tussen een man en een vrou, maar in die verdere details van die besluit word homoseksualisme weer aanvaar en eintlik dan weer goedgekeur? Sien hierdie artikel vir meer daaroor: NGK se besluit wat verwerp moet word.)
Die antwoord vind ons in ‘n aanhaling uit die Rapport, van 6 Des 2009, onder die opskrif “Storm in kerk oor saambly”, waar prof. Adrio Konig as volg aangehaal word:
“Ek hoor dié gesprek al sedert die 1960’s. Dit het onder ongelowiges begin, maar vind nou ook onder gelowiges plaas.”
Daar vind ons die antwoord: die ongelowiges het ‘n behoefte daaraan, en seker omdat hul nou al meer geword het in die kerke en geakkomodeer word, daarom moet daar nou vir hul standpunte en lewenswyse ook plek gemaak word.
Die saamwoon kwessie loop dieselfde pad as onwettige egskeiding en hertrou, en homoseksualisme.
Omdat dit nie liefdevol en regverdiglik aangespreek is langs die weg van die ware woordverkondiging en kerklike tug nie, daarom het dit die kerklidmate oorspoel, en noudat dit al meer die reël word (met hulp van al die sepies en die ‘rolmodelle’ van die tydsgees?), daarom moet die Skrif verdraai en aangepas word om aan te pas by die “moderne christen mens se behoeftes (lees: welluste)” (contra 1 Kor.5 tugoptrede wat vereis word).
Maar, soos ons weet, is daar niks nuuts onder die son nie:
2 Tim. 4:3-4 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
Om te sê die ‘papiere en seremonies en sertifikate en regulasies’ soos dit in kulture en deur die geskiedenis tot uiting gekom het, is nie belangrik vir die huwelik of ‘trou wees’ nie, is soos die eiendomsagent/bankier wat -nadat jy die miljoen rand in die bank se rekening betaal het- vir jou sê die ‘kaart en transport’, die ‘eiendomskontrak’ is nie nodig nie.
Ja, dit is eintlike belaglik.
Ironies genoeg, is dit juis die publieke handeling waar ‘n man en vrou voor God en mense ‘n openlike verbondsverklaring aflê, wat die essensie van die huwelik raak, wat sekeres in kerke nou as irrelevant wil beskou.
Seks is nie die wese van die huwelik nie, want dan sou die Bybel nie kon onderskei tussen ‘huwelik’/’trou’ en immorele optredes soos ‘hoerery’ en ‘egbreuk’ nie. Dan sou dit beteken dat mense wat nie meer in die huwelik seks het nie, nie getroud is nie ?
“Een vlees” wording kan plaasvind tussen ‘n getroude en ‘n hoer, maar dit maak dit nog nie ‘n huwelik nie, dit is egbreuk en hoerery (sien 1 Kor.6:12-20).
Die wese van die huwelik is verbondskap (engels: companionship), Spr.2:17,
16 om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei 17 wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet”
En, Mal.2:14,
Mal. 2:14 14 En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.
Ons weet ook dat in bybelse tye, verlowing reeds deel was van die huwelik, en in die verhaal van Josef en Maria, sien ons dat hul reeds in huwelik was, die huwelik het dus reeds bestaan nog voordat hul seksuele omgang gehad het (Matt.1:18-25).
Met verwysing na bogenoemde verse, skryf Jay Adams:
“All these facts (verwysende na Gen.1 en 2) make it as clear as can be that marriage is fundamentally a contractual arrangment (called in Mal.2:14 a marriage ‘by covenant’) and not a sexual union. Marriage is a formal (covenantal) arrangment between two persons to become each other’s loving companions for life. …
That covenant, we have seen, is made at the time of engagement by contract (not by sexual union), but the two begin to fulfill all the terms of the covenant only after the wedding ceremony and celebration when they actually begin to live together.[3]
Adams wys in sy boek daarop dat daar nie spesifieke uitgewerkte huwelikseremonies beveel word in die Bybel nie, behalwe miskien iets daarvan in Rut 3:9,10; Esg.16:8; Hos.2:19,20.
Maar, die wese van die saak gaan nie oor die spesifieke soorte seremonies of huweliksertifikate nie, maar dit wat onderliggend daaraan is:
‘n publieke handeling waarin twee mense hul in die openbaar voor God en getuies tot die eg verbind (verbond), waarna die ‘aankleef’ en ‘een vlees’ wording plaasvind. Sien bv. in Jakob se huwelike met Lea en Ragel, is daar al drie aspekte van die huwelik min of meer volgens Gen.2:24 betrokke, ook in daardie volgorde:
Genesis 29:21-23 21 Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. 22 Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. 23 Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.
Laban se dogter wat hom verlaat en die maaltyd wat berei was dui op die ‘publieke handeling’ om die huwelik te bevestig en mekaar aan te kleef, en eers daarna volg die ‘een vlees’ seksuele eenwording.
Die huwelikskontrak/verbond/sertifikaat/seremonie, ens., openbaar of verkonkretiseer die huweliksaanvang soos deur God bepaal, die verbondsluiting voor God, tussen twee mense, voor getuies, en daaruit volg die aankleef en eenwording.
Dus, as kerke nou wil kom met ‘n alternatiewe voorstel om nie meer in die kerk (deur ‘n huweliksdiens) of in die hof die ‘publieke openbare verbondshandeling voor getuies’ te wil voltrek nie, maar dit op ‘n ander (beter) wyse wil doen, sal ons graag luister na voorstelle wat tot God se eer is en die huwelik beskerm en opbou.
Maar, ek vermoed dat die huidige debat gaan bloot daaroor om lidmate in hul moedswillige sondes te akkomodeer wat tydelik wil saambly vir sekere ekonomiese of praktiese redes, en tydelik ook sommer die seksuele eenheid wil geniet, en, as dinge nie ‘uitwerk’ nie, dan maar weer aanskuif na die volgende ‘partner’ … alles natuurlik onder die seënende goedkeurende hande van kerke wat ‘begrip’ wil toon vir hul jongmense se ‘behoeftes’ … sodat die lidmaatgetalle nie nog verder daal nie (contra Jesus se optrede teenoor die ryk jongman, sien Mar.10:17-31, veral vers 22,23; contra Jesus se woorde in Joh.6:60,61,66,67; contra Luk.9:23-26).
Nadat Paulus Gen.2:24 aangehaal het in Ef.5:31, dan volg hy dit op met die doel en wese van die huwelik, wat juis deur Jackson en ander wat soos hy dink heeltemal gemis word:
31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.
Die doel van die huwelik, die pligte en voorregte van die huwelik (‘saamwoon’ in al sy geestelike en fisiese aspekte) is om Christus te verheerlik, Hom te eer, en te wys dat Christus het net een vrou, nooit ‘n klomp vrouens by wie hy ‘slaap’, dan weer die volgende een, dan weer hierdie een, dan weer daardie een, ens nie.
Die Here se ewige genadeverbond in Christus met sy uitverkore volk moet in die huwelik weerspieël word, ‘n ewige band van liefde en toewyding wat gebaseer is op God se beloftes wat Hy nooit verbreek nie. Ons huwelike moet die ‘trou’ van God teenoor sy volk, naspreek. En, as ons saamwoon (buite die eg, buite die publieke verbintenis tot mekaar lewenslank) goedkeur, dan trek ons ‘n streep deur daardie ‘verborgenheid’, dan trek ons ‘n streep deur Christus se koms, die Evangelie.
Alle skeefgetrekte en sondige verhoudings buite God se wil (bv. onwettige egskeiding en hertrou, homoseksualisme, hoerery, losbandigheid, buite die eg-saamwoon, ens. – sien HK Sondag 41) kan nie Christus verheerlik nie, en die kerk van Christus moet God se eer soek en ware liefde teenoor hul naaste, veral die jongmense van vandag betoon, deur hul God se wil vir getroudes en ongetroudes te leer, en nie wat “ongelowiges’ wil of die tydsgees bepaal, of wat prakties of ekonomies ‘voordelig’ is nie.
Die NGK 2016 is dus totaal onbybels met die volgende bewering: “maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.” (paragraaf 4.4,5)
Dit is ongelukkig niks anders as (ook) ‘n omverwerping van die huweliksfondamente nie.
Laat ons God dank vir die Evangelie van Jesus Christus, Hy wat ons vergewe daar waar ons op enige wyse die beeld tussen Christus en sy gemeente met ons buite-egtelike en/of immorele verhoudings en optredes en gedagtes geskend het (sien die verhouding tussen 1 Kor.6:10 en vers 11).
Maar, laat ons nie sy genade en vergifnis misbruik om losbandigheid en wetteloosheid te bevorder deur o.a. saamwonery buite die eg goed te praat nie (Matt.5:19; Rom.1:32; Gal.5:13). Die Evangelie bevry en herstel ons nou weer om die huwelik en al ons verhoudings volgens sy Wet en tot sy eer deur die krag van die Gees in te rig.
Heb.13:4 4 Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.
______________________________
[1] Coetzee, J.C. De Klerk, B.J., Floor, L. 1980. Die hermeneuse van die Skrif met die oog op hedendaagse kerklik-etiese vraagstukke. In die Skriflig, Jg.12, nr.54: 12-26.
[2] JC Laney, in Divorce and Remarriage, H. Wayne House,ed., IVP, 1990: 19.
[3] Marriage, Divorce and Remarriage in the Bible, Zondervan, 1980: 13,15,16.
______________________
‘n Antwoord op Jones se artikel: Die Bybel kies ‘n heteroseksuele antropologie
Sien hier meer oor die sosio-historiese benadering en daarteenoor die openbaringshistoriese benadering tot die Skrif:
Gereformeerde Skrifverklaring: Openbaringshistories of Sosio-histories ?
‘n Openhartige antwoord op ‘n openhartige brief
Sien die volgende bronne oor die huwelik en verwante onderwerpe:
Poligamie in die lig van Christus se koms
Huwelik, egskeiding en hertrou
Drie preke oor die 7de gebod en ons heiligmaking
Luister ook gerus na die volgende lesings oor die bewaring van die bybelse huwelik in hierdie tyd van aanslag deur o.a. die homosekuele agenda:
GPTS Conference on Marriage and Family
Speakers and their topics are:
- God’s Design for Marriage — Dr. Joseph A. Pipa, Jr., GPTS president
- Gay Marriage: Right or Wrong? — Gary Bates, Creation Ministries International
- The Maker’s Instructions — Dr. Ian Hamilton, pastor Cambridge Presbyterian Church (UK), GPTS trustee and adjunct professor
- Nurturing Sexual Intimacy in Marriage — Dr. Joel Beeke, president, Puritan Reformed Theological Seminary
- Free and Last: Counseling Those Dominated by the Sin of Pornography — Dr. Kevin Backus, pastor, Bible Presbyterian Church, Grand Island, N.Y.; Fellow – National Association of Nouthetic Counselors
- Family Worship in the Reformed Tradition — Dr. Benjamin Shaw, GPTS associate professor
- God’s Nursery — Dr. Pipa
- Biblical Wisdom for Courtship and Dating — Dr. Richard Phillips, pastor, 2nd Presbyterian Church, Greenville
- Special lecture on The Life and Theology of John Owen: A 400th Anniversary Appreciation — Dr. Ryan McGraw, GPTS associate professor and Owen scholar
U noem Neels Jackson se naam… word die aanslag teen die huwelik ook op ander plekke volgehou? Hou hierdie artikel op Kerkbode se webblad dop en sien hoe die getalle gereeld aangepas word…
http://kerkbode.christians.co.za/2016/11/14/172-protesteer-teen-dirkie-se-brief/