‘n Gereformeerde Volkekunde leeslys & Israel en die Afrikaner?

‘n Gereformeerde Volkekunde leeslys & Israel en die Afrikaner?

geloftedag – PRO REGNO

“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; *nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie (15), en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie (16).*” (Jesaja 2:4)

Die Statevertaling se kanttekeninge by vers 4: 15) Die profeet wil sê dat alle volke wat waarlik tot Christus bekeer met mekaaréén van hart sal wees in die geloof, sien Hand. 4:32, en dat hu in liefde en eenheid met mekaar sal leef, want uit het geloof volg die liefde. Vgl. Jes. 11:6. 16) Hulle sal met mekaar in christelike vrede lewe, sonder twis en onenigheid, derhalwe sal hul nie die krygskuns hoef te leer nie.

Dr. Simon Jooste, verwys in sy artikel, From Orange to Pink: A History of Politics and Religion in South Africa’s Cape Town, as volg (afwysend) na ‘Afrikaner nationalism through Afrikaner Calvinism‘ (beklemtonings bygevoeg):

“Concurrent with the gradual entrenchment of a Pietist strain within the DRC during the nineteenth century was the development of the Afrikaner self-identity as a “chosen people.” A critical event in this history was “the covenant” entered with God during the Great Trek before the Battle of Blood River on December 16, 1839 (the Day of the Vow). That the Trek-Boers survived this battle against the native Africans would be used to later solidify the mythology of Afrikaner nationhood: the Great Trek being that Exodus from bondage under British rule in the cape, followed by years of struggle in the wilderness, only to finally arrive one day in the Promised Land of the Boer Republics. Such myths and symbols drawn from the Old Testament would in the mid-twentieth century become powerful ideological tools to advance the cause of Afrikaner nationalism through Afrikaner Calvinism, which helped produce apartheid. This blending of sacred and secular horizons to produce a kind of civil religion—a “light to the nations”—was not unlike that which emerged in the early United States through the blending of Puritan spirituality with the struggles and ambitions of the founding fathers.”9)

Die bronne waarna dr. Jooste verwys in voetnota 9, is: See John W. de Gruchy, Liberating Reformed Theology: A South African Contribution to an Ecumenical Debate (Grand Rapids: Eerdmans, 1991), 26, 129–30, 264; and David J. Bosch, “The Roots and Fruits of Afrikaner Civil Religion,” in New Faces of Africa: Essays in Honour of Ben (Barend Jacobus) Marais, ed. J. W. Hofmeyr and W. S. Vorster (Pretoria, 1984), 14–35.

Die Afrikaner is deur die eeue getref deur baie kerklike- en volksdwalinge, en amper soveel Afrikaners as wat (oor) is, soveel sienings, menings, dwalinge, strydpunte, ens. … wat vandag nog woed (sien Stoker se artikel hier onder, asook sy klassieke werk, Stryd om die Ordes).

Tog midde dit, soos Paulus self noem oor sy eie volk, is sy bede vir hul redding in Christus alleen, natuurlik redding as volk in hul uitverkorenes (Rom. 9:6-8; 10:4,5; 11:26) om die Here te verheerlik (Rom. 10:1,2; 11:36; 15:9-13).

Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis.” (Rom. 10:1,2)

Sodat elkeen in sy eie taal, kultuur, gewoontes, land, ens (Hand. 2:11; 17:26) die Here alleen sal dien en eer, mekaar sal dien en help, dus die oproep van Psalm 2 najaag in die ganse lewe:

LOOF die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! 2Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja” (Psalm 117)

Mens kan baie menings van en oor die Afrikaner en sy geskiedenis lees, ook die gelowige deel se worstelinge met ons verlede, hede en toekoms, veral hulle wat hulself as ‘Christen Afrikaners’ of ‘Gereformeerde Afrikaners’ beskou, wat ook deel is van baie kerkverbande en verskillende groepe wat oorlog voer vir die ‘siel /hart van die volk’.

Daar is ook baie goeie opbouende bybelse en polities-ekonomiese kritiek om werklik te harte te neem en oor te besin (sien onder andere die artikel hier onder van dr. Mark Kreitzer), maar ongelukkig is daar ook baie kritiek wat nie wil opbou, nie wil oproep om te bekeer en te reformeer nie, maar wil net vernietig en verag, daarom moet ‘n mens versigtig onderskei, oor wie en wat jy lees, en wat daardie persone se eie geloofs- en lewensbeskouing is waaruit hul skryf nie vir die Afrikaner nie, nie vir die gelowige Afrikaner nie, maar teen die Afrikaners opsigself.

Ten einde het pres. Paul Kruger dit goed gestel en ons geleer: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.”

Vir die gelowige Afrikaner is en behoort die finale toetssteen altyd die Heilige Skrif te wees, die Here se wil in al hierdie uitdagende vraagstukke in kerk en staat, in die volkere-vraagstukke, Ps. 1, 36:10; 119; Matt. 4:4; Hand. 17:11; 2 Tim. 3:15-17 van toepassing op die ganse lewe.

In antwoord op dr. Jooste se aanhaling, asook sy artikel in geheel, maar ook as bydrae tot ware verootmoediging en bekering van en vir gelowige Afrikaners, plaas ek die ‘Gereformeerde Volkekunde’ leeslys hier onder wat ek begin opstel het.

Een van daardie artikels plaas ek volledig hier onder as ‘n antwoord op dr. Jooste en sy bronne se eensydige siening oor hoe het gereformeerde gelowiges soos bv. ‘n Totius geglo en gedink het oor ‘Israel en die Afrikanervolk’, en hoe ons dus behoort te glo.

Daaruit sien mens dat Totius (en ek meen baie ander gereformeerde kerk- en volksleiers soos hy deur die eeue en vandag nog), baie duidelik die unieke wesentlike verskille tussen Israel en alle ander volke deur die geskiedenis erken en gehandhaaf het (dus, diskontinuïteit tussen OT en NT), maar tegelykertyd, is daar ook belangrike ooreenkomste en lesse erken vir alle volke en tye (kontinuïteit tussen OT en NT) wat ons ter harte moet neem, dus ook vir die Afrikanervolk en alle volke. En ja, ook die oproep tot gesonde gelowige saambid en besin oor daardie twee aspekte is goed vir gelowiges afsonderlik en saam in kerk- en volksverbande.

Ten einde is die vraag vir die ware gelowige nie, wat ‘is’ ‘n mens, gesin, gemeente, gemeenskap, volk of land tans soos dit histories bestaan en nou voortbestaan, goed of sleg nie… maar wat ‘behoort’ ons te wees, wat is ons roeping volgens sy hele Woordopenbaring van begin tot einde, alles tot eer van God en die heil van die naaste, op alle terreine van lewe en denke, ook in volkereverhoudinge.

_________________________________________

Daardie Voortrekkervolk: Totius oor Israel en die Afrikaner – gelykstelling of teenstelling?

Prof. dr. J.D. du ToitInleiding – S Le Cornu

Volgende week gedenk ons weer Geloftedag. En soos gewoonlik gaan en sal daar weer misbruike van die dag se oorpsrong en bedoeling wees, hetsy van ‘n Israelvisie kant, of aan die anderkant ‘n verwerping van die dag as in stryd met die Christelike geloof, omdat die Here nie meer met volke werk nie, maar net met kerke.

Een van die aanslae is natuurlik dat die Afrikaner sondig deur te dink hul is Israel (of ten minste in die verlede), en daarom moet ons teen die dag wees (en die Afrikaner in die algemeen). Nou weet ek nie van enige gereformeerde kerk of volksleier wat al ooit gesê het die Afrikaner is vandag die uitverkore volk van God soos Israel was in die OT nie, en as daar was, dan distansieer ek my daarvan. Beteken dit egter dat gelowiges in volksverband niks mag leer van Israel as volk nie? Nee, dit glo ek ook nie.

Ek meen Totius dink in die artikel hier onder in die regte rigting.

Aan die eenkant word gelykstelling met Israel verwerp, maar daar is ook nie ‘n teenstelling nie, asof ons as ‘n volk niks kan leer van wat die Here deur Israel aan al die volke geopenbaar het, natuurlik alles gesien in die Nuwe Testament vervulling en bevestiging deur Christus (Matt. 5:17-20; NGB art. 25).

_________________________________

DAARDIE VOORTREKKERVOLK 

deur Totius

Dit het al byna ‘n gemeenplaas geword om te sê dat die Voortrekkervolk deur God hier geplant is om ‘n besondere roeping te vervul. So word ook luid verkondig dat die Calvinisme die leidende grondbeginsel vir ons moet wees, maar hoeveel kom daar van die mooi leuse in die praktyk tereg?

Wat ons sien, is dat vreemde strominge lelike slote in ons volkslewe spoel.

Nietemin wil ons nou, in vervolg op ‘n vorige artikel, gaan skrywe oor die besondere taak waarvoor God Almagtig die Boerenasie in aansyn geroep het. Ons bepaal ons nou by die feit self en die betekenis daarvan vir die volksgeheel.

Diegene wat die voorreg gehad het om na toesprake van wyle president Kruger te luister of wat iets daarvan in sy lewensbeskrywinge gelees het, weet hoe die President vol was van die een gedagte dat sy nasie hier in Afrika ‘n besondere taak moet volvoer en hoe hy in sy toesprake en gesprekke gedurig verwys het na die geskiedenis van Israel as inspirerende voorbeeld of afmanende waarskuwing. In hierdie opsig was die President selfs enig onder die volksleiers in Suid­ Afrika.

Wat nou die verwysing na Israel betref, menigeen sal miskien meewarig glimlag as hy so iets lees en dink:

“As die ou President, anders ‘n kragtige taalman, maar wou geswyg het van die ‘fabels aangaande Jodevreugde en Jodenyd’ !”

Hierdie gevoele sal ons nou nie weerlê nie. Dit kom vir ons neer op Skrifverwerping, in hierdie geval van die Ou Testament.

Maar daar is ander, Skrifgelowiges, wat by die vergelyking van die Boerevolk met Israel ‘n groot vraagteken sal sit. Hulle meen dat Israel ‘n geheel enige verskyning onder die volke is. Israel is die ou Bondsvolk aan wie die woorde van God toevertrou was en uit wie die Messias, vir soveel die vlees aangaan, sou voortkom. Ons gaan dus heeltemal feil, meen hulle, deur die wonderdadige gebeurtenisse (dink aan die wonderdadige uitreddinge van Israel in tyd van nood) op ander volke te wil toepas. Inderdaad sal dan ook so ‘n toepassing homself loënstraf: dit sal nie uitkom nie.

Ons kan dadelik sê dat ons so iets van ‘n nugter staatsman soos president Kruger ook nie moet verwag nie. Hy het goed geweet dat die verskyning van Israel eksepsioneel [uitsonderlik] in die geskiedenis was en dat God sy wondermag op aarde ten toon gesprei het met die bepaalde doel:

(1) dat Israel in die volheid van die tyd die Messias na die vlees sou voortbring, en

(2) dat die kerk van Christus onder die Nuwe Verbond geplant sou word.

Maar wat beduie dan die verwysing na en die vergelyking met Israel?

Ons mag mos nie die wonderdadige herkoms uit Abraham, die wonderdadige leiding en versorging in die woestyn van Sinai, die wonderdadige uitreddinge uit die land van die menigvuldige vyande en soveel meer op ons volk of volksgeskiedenis van toepassing maak nie ! Met ander woorde, die strik wonderdadige moet ons uitskakel. Waar God onder Israel regstreeks ingegryp het, doen Hy dit nou nie meer nie.

Wat is dan die waarde van Israel se geskiedenis vir ons?

Hier moet duidelik onderskei word om die regte antwoord te vind.

Enersyds was Israel inderdaad die wondervolk, die ou Bondsvolk, wat op aarde sy gelyke nie gehad het nie. Vandaar die afsondering. Eers die wye sirkel, die grense van wat ons nog noem “die heilige land”. Dan die enger sirkel: Jerusalem, die heilige stad. En ten slotte die nog kleiner sirkel: die heilige tempel. En as dan in hierdie kleiner sirkel, die heiligheid by uitstek, die Messias in sy wondergestalte staan, dan het Israel sy taak voltooi. Dan gaan die evangelie in altyd wyer wordende wentelinge die wêreld in, totdat die eindes van die aarde bereik is. Israel dus eers die afgesonderde volk, anders as al die ander volke, met ‘n geskiedenis wat ons “die heilige geskiedenis” noem.

Maar – en dit moet noodsaaklik by die voorgaande bykom – Israel was andersyds ook ‘n volk onder die volke, met ‘n koning onder die konings van die aarde, ‘n koning wat verbonde sluit en ook weer verbreek, wat sy volk volgens die algemene beginsels van reg moet regeer, wat selfs as Oosterse despoot opgetree het, soos Dawid in die geval van Uria. En Palestina was ‘n land onder die lande, met ‘n bodem wat langs natuurlike weg omgeploeg en gespit moes word, wat besaai en beplant, natgelei en geskoffel moes word.

Anders gesê, God het nie altyd in die bestaan van Israel regstreeks en wonderdadig ingegryp nie. Hy het ook gewerk langs die weg van die tweede oorsake soos onder ander volke en in ander lande. In die woestyn gee God manna, die brood uit die hemel; maar in Palestina moet die volk saai en maai soos ons om sy brood te kan eet.

Hier waar God werk langs die weg van sy voorsienigheid en deur middel van die tweede oorsake (die natuurwette) is ‘n gemeenskaplike terrein waar Israel en die volke mekaar ontmoet. Hier kan dus wel terdeë ‘n vergelyking plaasvind tussen Israel en die volke, ‘n vergelyking wat so nuttig is omdat die Psalmis die uitnemendheid van Israel se insettinge besing en daarvan sê:

“So het Hy (die Here) aan geen enkele nasie gedoen nie” (Ps. 147:20).            “•-

As Luther dus Ps. 101 ‘n “regentespieël” noem, ‘n spieël waarin regeringspersone moet kyk om te sien of hul dade goed en reg of verkeerd en sleg is – dan gaan Luther volgens ‘n suiwere eksegetiese reël te werk. Ons hoop later o.m. op hierdie Psalm terug te kom.

As Calvyn sekere stelreëls aan die koningskap onder Israel ontleen en dit algemeen toepaslik maak, dan het hy daar volkome reg toe. Net so as hy stelreëls ontleen aan die volksvergaderinge in Israel om te bepaal wat die regte van ‘n volk teenoor die owerheid is.

As ‘n onderwyser uit die eerste tyd van die Voortrek aan sy familie in die ou Kolonie skrywe dat hulle besig is om ‘n republiek te stig so na aan die wette van Moses as moontlik is, dan is dit, prinsipieël gesien, geen ouderwetse dommigheid nie maar ‘n poging om die suiwerste staatsisteem te soek.

Jammer maar dat hierdie regte idee in ons volksgeskiedenis nie tot volkome rypheid gekom het nie maar versteur is deur die inwerking van vreemde, veral liberalistiese invloede.

En as Paul Kruger sy staatsmanswysheid put uit die Woord van God (Ou sowel as Nuwe Testament), wat vir ons die opperste wet en gesag is, dan is hy die regeerder na ons hart, ook as hy sy gedragslyn as staatsman wil laat beheers deur wat bepaaldelik in die geskiedenis van Israel as spieël aan ons voorgehou word.

Hierin lê die betekenis van Paul Kruger, hierin sy onverganklike grootheid, dat hy klein-gebuig het voor die hoe God wat aan hom wysheid geleer het.

Hoe baie is daar vandag wat roem dra op die naam van Paul Kruger maar wat tog nie in sy weë wandel nie? Waarom dan tog nie? Kan ons die man aanvaar en nie sy wyse weë nie?

Ten slotte merk ons nog op dat selfs wanneer die wonderelement in Israel se volksbestaan die vernaamste is, ook dan nog die Woord van God sy onverganklike krag behou, mits ons volgens gesonde reëls van uitlegkunde te werk gaan.

Om een voorbeeld te noem.

As Hiskia die brief voor die aangesig van die Here uitbrei toe hy in gedrang gekom het vanwee die beleëring deur die Assiriers [Jes. 37: 14], het hy besef dat die redding nie van oos of wes nie, maar alleen van bo, van die Here af, kan kom.

Dit is nog waar.

As persone of as volk word ons soms nog so in die engte gedryf dat ons moet uitroep: Nou kan die Here alleen red!

Die verskil met Hiskia se redding is alleen dit dat die Here toe deur sy engel ingegryp het, terwyl Hy nou sy weë en middele so skik in sy voorsienige bestuur  dat ons redding ewenwel  bewerkstellig  word.

Bron: Die  Kerkblad, 5 Februarie  1943 (Versamelde Werke, 1977, deel 9, bl.430-433, beklemtonings bygevoeg)

______________________________________

GEREFORMEERDE VOLKEKUNDE LEESLYS

Ek is besig om ‘n leeslys op te stel om vir mede geloofs-en volksgenote te gee om te besin vanuit die geloof oor gereformeerd volk wees, die artikels gaan nie net oor volkskap nie, maar ander belangrike onderwerpe ook, maar omvat ons roeping om as ‘n volk, langs en saam ander gelowiges en volke!, tot eer van die Here hier in ‘donker’ Afrika ons roeping uit te leef (1652 – gebed), wat saamgaan en afhanklik is en voortspruit vanuit persoonlike, gesin en gemeente bekering en reformasie terug na Christus en sy Woord, in die krag van die Gees.

Hier is die lysie sover, almal gereformeerde-konfessionele teoloë en denkers:

1. Totius, Ons roeping en toekoms

Click to access pr-2009-08-24-nr-7.pdf

2. HG Stoker, Calvinisme as wortel van ons volksbestaan

Calvinisme as wortel van ons volksbestaan

3. B. Spoelstra, Die Bybel en ons Afrikaanse Volkerebeleid (die fokus moet nie op ‘rasse’ wees nie, maar ‘volkere’).

https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/924/1174

4. Die profetiese roeping van die kerk volgens die Skrif ten opsigte van ons volkere verhoudinge (belangrik om die verhouding OT – NT reg te verstaan in terme van die roeping van die kerk in die OT onder en in Israel, en die roeping van die kerk in en onder elke volk vandag):

Die profetiese roeping van die kerk volgens die Skrif – ten opsigte van ons volkere verhoudinge

5) Mark Kreitzer, die Tragedie en Hoop van Apartheid (goeie ontleding van wat moes verander en wat behou moes word van die ou SA)

Die Tragedie en Hoop van Apartheid SA

6) Prof. WJ Snyman, Kerk en volk & Nuwe en Ou Dinge

Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk

Nuwe en ou dinge – prof. WJ Snyman

7. GKSA sinode 1949 rapport oor NGB art. 36 (hoe die verhouding ‘kerk en staat’ gesien moet word):

GKSA TEOLOë TEN GUNSTE VAN DIE OORSPRONKLIKE REGTE VERSTAAN EN HANDHAWING VAN NGB ARTIKEL 36, DUS GEEN ‘NEUTRALE’ MENSEREGTE OWERHEID NIE

8. Daardie Voortrekkervolk, Totius (Totius oor Israel en die Afrikaner)

Daardie Voortrekkervolk: Totius oor Israel en die Afrikaner – gelykstelling of teenstelling ?

9. JC Coetzee, Volk en Godsvolk in die NT (belangrike deeglike eksegetiese studie, dit is duidelik dat alhoewel daar wesentlike eenheid is met Totius oor die basiese ‘kerk en volk’ siening, die gereformeerde geslag daarna, o.a. JC Coetzee, WJ Snyman en andere, gefokus het om volkere gedagtes in terme van taal, kultuur, gods. land, ens te sien, en nie die gegewe ‘ras’ gedagtes nie, as toekomstige gereformeerde besinning oor SA se ‘volkere probleem’)

DIE GEREFORMEERDE STANDAARDWERK IN AFRIKAANS OOR ‘KERK EN VOLK’ IN DIE LIG VAN DIE HEILIGE SKRIF

10. Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk:

Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk

11. Herman Bavinck se allesomvattende gereformeerde-verbondsmatige sendingvisie: moet sending begin by individue of volke?

BAVINCK SE ALLESOMVATTENDE GEREFORMEERD-VERBONDMATIGE SENDINGVISIE: WAARMEE MOET SENDING BEGIN: INDIVIDUE OF VOLKE?

12. Die Kinderseën: as dit verwerp word, is dit tot ondergang van beide kerk en volk

Pro Regno nr.13 Die Kinderseën

13. Die Volkekunde “IN U LIG”, prof. dr. JH Coetzee

“Die bedoelde besondere uitgangspunt is in die titel gegee in die woorde „in U lig” . Dit kon ook anders weergegee gewees het as ,.calvinistiese” of „gereformeerde” Volkekunde, maar die keuse het op hierdie omskrywing geval omdat dit die beleidgewende leuse van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys is en as sodanig duidelik genoeg behoort aan te dui wat die besondere standpuntstelling vir die beoefening en uitbouing van die wetenskap in sy geheel en vir elk van sy onderafdelinge impliseer.

By die keuse van hierdie onderwerp en van die omskrywing daarvan is dit geensins my bedoeling om ’n bewys of ’n pleidooi te probeer lewer vir die goeie gronde van ’n wetenskapsbeoefening „in U lig” en vir die bestaansreg van ’n Christelike Volkekunde nie. Sodanige bewyslewering mag nog in sommige sogenaamde liberale of neutrale wetenskaplike kringe nodig wees maar seer sekerlik nie meer aan hierdie akademie nie. Die beoefening van die Volkekunde as wetenskap ,,in U lig”, d.w.s. in die lig van die openbaring van God in natuur en Skriftuuri), moet opgevat word as ’n vanselfsprekendheid; meer nog, as ’n roeping en verantwoordelikheid.

Wat ek dus wel wil probeer doen is om in die breë aan te dui hoedat die bepaalde wetenskap in sy inhoud en metodologie be’invloed sal word deur hierdie a priori. Ongelukkig kan dit nie gedoen word sonder kritiese verwysing na die bestaande struktuur daarvan nie. Op die keper beskou, kom dit daarop neer dat nagevors moet word hoedanig die gegewens wat deur die natuur gegee en hoofsaaklik deur nie-gelowiges versamel, gewaardeer en geïnterpreteer is, belig word deur die openbaring in die Skriftuur.”

*LET WEL: Hierdie lys is nie bedoel om volledig te wees nie, daar kan nog baie ander bronne wees, voorstelle is welkom. Sien ook bv. enige werke in hierdie verband van proffs. Victor d’Assonville (snr), Hendrik van der Wateren, AWG Raath, ens.

14. Van Riebeeckdag 1652 en in die toekoms, wat ons volk se roeping en taak in Afrika verwoord & Ps. 117 preek

“Stigtingsdag, oftewel van Riebeeckdag, word deur gereformeerde Christene beskou as die volksplanting van die Afrikaner in Afrika. Wat baie ‘Afrikaners’ egter vergeet het (partymaal doelbewus), is dat die ‘wortel van ons volksplanting’ en dus ‘volksbestaan’, die Calvinisme was. Die Calvinisme wat hier geplant is, was gefundeer in Statebybel met sy Verklarende Aantekeninge, die Psalmboek, die gereformeerde teologie van Johannes Calvyn (sien sy Institusies van die Christelike Godsdiens), en die ‘ou skrywers’, o.a. a’Brakel, Smytegelt, ens. Geen moderne Afrikaner wat heiden, liberalis, evolusionis of nazi-is wil wees, kan hom beroep op die volksplanting of die wortel van ons volksbestaan nie.”

15. 2 Februarie 1990 in die Afrikaner se geskiedenis – ‘n Helder of dowwe kol?

“Daarom is die gebeure van 2 Febr.1990 en daarna, nie ‘n helder kol in die Afrikaner se geskiedenis nie. Ja, daar moes veranderinge en verdere reformasie kom, die bedoeling van die apartheidsargitekte was nog altyd dat elke volk sy eie land en regering sou hê,[1] maar, om ‘n volk en sy land en sy grond, sy geskiedenis, sy kultuuraansprake (bv. Pretoria word Tswane?), heeltemal weg te gee, oor te gee, weg te smyt, is geen ‘noodsaaklikheid of reg’ of ‘n heldedaad nie, maar ‘n dowwe tragiese bloedige kol in ons geskiedenis, waarvan ons die gevolge reeds sien, en nog vir lank gaan sien.

Mag die Here ons genadig wees, vir al die Christene onder elke volk wat ly as gevolg van 2 Februarie 1990, maar dan ook vir ons eie volk, wat nie net a.g.v. sy eie sondes getugtig word nie, maar ook ly a.g.v. hierdie dag. Ons kan ons kinders leer van die heldedade en mannemoed van ‘n Andries Pretorius, ‘n Koos de la Rey, ‘n Christiaan de Wet, ‘n Paul Kruger, maar, ongelukkig nie van ‘n FW de Klerk nie. “

16. UIT EEN BLOED: ‘N STUDIE VAN RASSEVERHOUDINGE IN DIE LIG VAN DIE HEILIGE SKRIF

Inhoud:

  1. Die Skrifgegewens ten opsigte van rasseverhoudinge: Ou Testamentprof. S. (Fanus) Du Toit), bl. 1
  2. Die Skrifgegewens ten opsigte van rasseverhoudinge: Nuwe Testamentprof. W.J. (Willie) Snyman, bl. 15

26En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek…” (Hand. 17:26, 27)

Met erkenning, word hierdie twee afdelings geneem uit die GKSA se Handelinge van Sinode 1961, bl. 51-85.

Die hele studie, is ook in boekformaat uitgee, onder die titel: Uit een Bloed – ‘n Rapport aan en ‘n Besluit van die Algemene Sinode van die GKSA oor Rasseverhoudinge (Potchefstroom: Pro Rege-Pers Beperk, 1961).  Beklemtonings is ingevoeg in die teks wat ek verwerk het.

Hierdie twee artikels, is ‘n Openbaringshistoriese Studie van die onderwerp van ras, volk, nasie en ook hoe dit verband staan met die kerk, waarin van Genesis tot Openbaring relevante Skrifgedeeltes verklaar word en toegepas word op ‘rasse en volkere vraagstukke’, wat vandag nog wêreldwyd aktueel is, en dalk nog meer, met al die verwarde verdraaide sienings van ‘links tot regs’, en partymaal alles tussen-in, waarmee kerke en gelowiges in aanraking kom en ook daarmee worstel.

3 thoughts on “‘n Gereformeerde Volkekunde leeslys & Israel en die Afrikaner?

Add yours

  1. In addressing the Dutch nation, he writes:

    “Gy zijt Gods volk, daer de Heere soo na by ghekomen is, die Hy uyt soo veel andere volcken op een bysondere wijse hem tot een eygendom verkooren heeft, en daer Hy dan oock billijck wat meerder van verwacht, als van de rest”

    – H. Witsius, Twist des Heeren met sijn wyngaert (1669, p.387-388)

Leave a reply to proregno Cancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑